Veldwagters in natuurreservaat vermoor

Virunga-veldwagters-02

ʼn Argieffoto van veldwagters bloot ter illustrasie  Foto: AP/Jerome Delay/ANA.

Twee veldwagters van die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is vandeesweek in ’n beweerde hinderlaag by die Silverglen-natuurreservaat in Chatsworth doodgeskiet.

Mxolisi Kaunda, burgemeester van die eThekwini-munisipaliteit, sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die veldwagters Donderdag patrollie in die natuurreservaat gery het toe hulle in ’n koeëlreën doodgeskiet is.

Albei veldwagters, onderskeidelik 36 en 47 jaar oud, is in die patrollievoertuig doodgeskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes is gister omstreeks 08:00 na die natuurreservaat ontbied waar hulle die veldwagters se liggame aangetref het. “Albei het skietwonde opgedoen en is op die toneel dood.”

Die polisie ondersoek twee aanklagte van moord.

Kaunda sê die motief vir die moorde is in dié stadium onbekend.

Die burgemeester het ’n beroep op die polisie gedoen om die ondersoek te bespoedig sodat diegene verantwoordelik vir die “sinnelose” moorde aangekeer word. “Moorde van hierdie aard kom nie gereeld in ons natuurreservate voor nie.”

Die munisipaliteit het nou sy amptenare opdrag gegee om veiligheid in al die natuurreservate in die munisipale gebied op te skerp.

“Ons wil ook lede van die gemeenskap versoek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die oortreders,” het Kaunda gesê.

Maroela Media kon nog nie met die reservaat kontak maak om terugvoer te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

In die Arabiese Emirate word moordenaars en verkragters die woestyn ingeneem en voor ‘n vuurpeleton doodgeskiet. Hoog tyd dat hierdie metode in Suid-Afrika toegepas word. Mense word afgemaai asof hulle diere is!

Cherokee ·

Jou laaste sin lig nogal die wenkbroue van diereliefhebbers. Want jy sê dit asof dit so behoort te wees. Asof daar geen diereregte is.

Colin ·

Rêrig? As ek so na al die berigte se kommentare kyk moet mens omtrent op eiers loop anders “offend” jy tog net iemand en veral as daar iets te sê is oor diere. Hier is twee mense vermoor. Mense wat hul werk gedoen het om diere en die natuur op te pas. Dit is tog NET ‘n vergelyking wat JM gemaak het.

Samuel ·

Daar is geen motief nodig vir hierdie misdaad nie. Geweldadige optrede is deesdae die norm.

Casper ·

Is ‘n polisieman se lewe meer werd as enige ander burger in hierdie land.Wat is oompie met die hoed se reaksie op hierdie moorde.SSSHHHHT niks.Hoeveel gevangenis kan Robin eiland huisves.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.