Veldwedloper op Tafelberg dood

Die reddingsdienste op Tafelberg. (Foto: Brent Russell)

’n 48-jarige veldwedloper van die Wes-Kaap het Saterdagoggend op Tafelberg sowat 60 meter na sy dood geval.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), sê reddingsdienste is omstreeks 09:00 na die berg ontbied nadat ’n man naby Kloofhoekrifvermoedelik gegly en geval het.

Nog nooddienste is ontbied en ’n helikopter is ingespan om die man te bereik. ’n Paramedikus is met behulp van die helikopter tot by die man laat sak. Die paramedikus het die man ondersoek, maar aangedui dat die man nie die val oorleef het nie.

Die man se liggaam is op ’n draagbaar geplaas voordat dit met die helikopter na bo gehys en later aan die polisie oorhandig om met hul geregtelike doodsondersoek te begin.

Marais het ’n beroep op stappers, klimmers en ander besoekers op Tafelberg gedoen om versigtig op die berg te wees.

Die helikopter wat Saterdagoggend ingespan is. (Foto: Brent Russell)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Tafelberg, ek voel ek sien verskriklik baie berigte in die media oor mense wat hul lewens daar verloor… Vanaf my oogpunt is dit n gevaarlike plek wat ek sal vermy

Anti-Verkramp

Ek het al ‘n opname van een van die veldloopbergroetes gesien ( daar is so ‘n wedloop wanneer die 2 Oseane plaasvind). Van daai drafpaadjies lyk baie gevaarlik en nou en sommiges is teenaan ‘n onmiddellike afgrond, as jy gly is dit klaar met kees.