Velkanker: ‘SA nie ernstig genoeg oor sonbeskerming’

Foto: Velkankervereniging SA

“Voorkoming van velkanker is die beste manier om hierdie dikwels dodelike siekte die hoof te bied, en daarvoor is gesonde praktyke betreffende sonblootstelling nodig,” aldus dr. Jeannette Joynt, ʼn bekende velspesialis wat op 1 September vanjaar ʼn sleutelrol gespeel het in die Velkankerstigting se veldtog om gratis gevaarlike velkanker te diagnoseer.

Dit is ongelukkig so dat mense nog nie gereeld veilige sonpraktyke by die werk en tydens ontspanning volg nie. In Suid-Afrika is daar nog baie werk nodig om die skole- en sakesektor te oortuig om sonbeskerming ʼn saak van erns te maak, sê Joynt.

Hoe warmer die aarde word weens aardverhitting, hoe meer dae is daar wat mense op strande en ander plekke kan deurbring waar hulle aan sonlig blootgestel is. In België skuif die lyn ten suide waarvan hospitale se velkankerbegrotings aangepas moet word elke jaar verder noordwaarts. Boonop neem die aarde se magneetveld af en word aardlinge meer aan skadelike kosmiese strale blootgestel. Die verwantskap tussen die magneetveld en velkanker verg egter meer navorsing, sê Joynt.

Van die drie bekende soorte velkanker is melanoomkanker die bekendste omdat dit die gevaarlikste is. Hoewel die opvatting wyd bestaan dat melanoomkanker in moesies ontstaan (wat eers op sowat tweejarige ouderdom sigbaar word), is dit nie altyd die geval nie. In sowat 50% van die gevalle ontstaan melanoomkanker waar daar geen moesie was nie. Ongeveer 9% van alle velkanker is melanoomkanker.

Daar word eers na ʼn melanoom verwys indien daar histologiese bewyse is dat die selle in die gebied kankeragtige melanosietkleurselle is. Daar is verskeie faktore wat ʼn rol speel in die ontstaan van ʼn melanoom.

Daar is reeds meer as 20 genetiese veranderings in DNS-gene aangewys waaruit melanome ontstaan. Hierdie kwessie behels ʼn element van verhoogde vatbaarheid in sekere individue en families. Sonblootstelling, veral die redelik intense blootstelling as die vel rooi gebrand of blasies gevorm was, kan ʼn rol speel by die veranderings wat lei tot melanoom. Die klein skade aan die sel se DNS met sonskade kan op enige ouderdom na ʼn melanoom verander.

Gereelde velondersoek word in alle ouderdomme aanbeveel. Kutane maligne melanoom ontstaan indien daar kwaadaardige melanosietkankerkleurselle in die vel gevind word.

Daar is ook twee algemene nie-melanoomvelkankers, sê Joynt, naamlik basaalsel- en plaveiselkarsinoom.

Basaalselkarsinoom is die algemeenste velkanker en is normaalweg plaaslik vernietigend vir die sagte weefsel. Lokale behandeling kan genesing bewerkstellig indien dit vroeg gediagnoseer word. In sekere gevalle, met vinnige kankergroei of waar die kanker lank nie behandel was nie, kan die been, senuwees en spier aangetas wees.

Basaalselkarsinoom se metastatiese uitsaaiings is baie seldsaam – in slegs 0,0028% van kere sal dit na ander organe versprei.

Plaveiselkarsinoom is kwaadaardig. Die velkanker sal aanvanklik redelik vinnig ontstaan met lokale vergroting en vinnige lokale weefselvernietiging. Hierdie velkanker moet vinnig en intens behandel word om genesing te bewerkstellig.

Plaveiselkarsinoom op die lip, oor, neus en in vorige gebiede van besering kan wel vinniger uitsaai na die limfkliere en daarna na ander organe. Die voorkoms van metastatiese uitsaaiings word aangemeld in 0,5% tot 6% in sekere hoërisikogevalle.

“Daar is steeds een belangrike feit – sonbeskerming kan ons risiko verminder en gereelde velondersoek self en deur mediese personeel kan help om melanome vroegtydig vir behandeling te identifiseer,” sê Joynt.

Lees gerus Maroela Media se vorige artikel hieroor hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kaufman ·

Ek hoop almal lees hierdie artikel. Stuur dit aan vir die vir wie julle omgee.

kk ·

Dit is fantasties…ons almal wil graag so jaarlikse besoek deurwerk, maar ongelukkig maak die Velspesialiste dit onmoontlike vir die gewone ou op straat.

‘n konsultasie: R2300.00 sonder dat hy aan jou raak en alle ander kostes is dadelik betaalbaar. Nou wie loop met R5000 rond om gou by die velspesialis te spandeer. Belaglik.

Ek is toe maar noodgedwee na huisdokter. R980 konsultasie en uitsny en die wegstuur en toes R1800 so ja! Mediese kostes is belaglik in ons land.

Niks is verniet ·

My elektrisien wat n diploma het het my vir 2 ligte se herstel(nie gekopliseerd) R2500 gevra. Geen risiko! So eks jammer, waarom moet n spesialis wat 14jaar + geswot het minder vra.

Stephanus ·

Ek is self ‘n pasiënt van Dr. Joynt. Skitterende dokter.

HPV ·

Hier in Bloemfontein vra ‘n velspesialis R700.00 vir konsultasie en behandeling. Ek besoek hom jaarliks.

Lisa ·

Hoekom is sonbeskerming produkte onbekostigbaar. Hoe meer beskerming dit bied hoe duurder. Waar werk die meeste arm mense van die land? In die son in katte op te pas ek kan dit nie bekostig. Ek is n enkelouer en koop eerder kos as sulke duur luukse items.

Lisa ·

Hoekom is sonbeskerming produkte onbekostigbaar. Hoe meer beskerming dit bied hoe duurder. Waar werk die meeste arm mense van die land? In die son on karre op te pas ek kan dit nie bekostig. Ek is n enkelouer en koop eerder kos as sulke duur luukse items.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.