Velle van donkies, tiere op kleinhoewe gevind

Een van die ongeveer 1000 donkievelle wat op die kleinhoewe gevind is. Foto: NDBV

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

Beamptes van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het op ongeveer 1 000 donkievelle en sewe tiervelle beslag gelê nadat hulle op ʼn kleinhoewe in Benoni aan die Oos-Rand toegeslaan het.

Navesh Singh, nasionale inspekteur by die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê die NDBV het reageer op ʼn wenk wat hulle ontvang het oor die bedrywighede op die kleinhoewe. Hulle het daarna ʼn soeklasbrief bekom voordat hulle op die perseel toegeslaan het.

“Bale donkievelle wat met draad vasgebind is, is op die perseel gevind. Tiervelle was ook tussen die donkievelle versteek,” het Singh gesê. Toerusting wat met die onwettige handel van donkievelle verband hou, is ook op die perseel gevind. Met die NDBV se aankoms by die kleinhoewe, het die verdagtes van die toneel gevlug.

Volgens Singh het die NDBV se beamptes by nadere ondersoek vasgestel dat die donkies vermoedelik agter hul nekke gekap is om hulle verlam te laat voordat hulle afgeslag is. “Die NDBV het tydens vorige sake die skokkende bevinding gemaak dat van die donkies steeds lewend was, maar verlam of bewusteloos, toe hul velle afgestroop is,” het Singh gesê.

Sy het gesê daar is op al die velle beslag gelê en dit is in veilige bewaring geplaas. Die NDBV is tans in gesprek met die owerhede om strafregtelike stappe in dié verband te doen.

Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê die onwettige handeldryf van donkievelle moet onmiddellik ʼn nekslag toegedien word. “Hierdie diere ly ʼn verskriklike en barbaarse dood. Ons doen ʼn beroep op die publiek om sulke voorvalle by die NDBV aan te meld,” het De Lange gesê.

Lees hier meer oor die swartmark vir die uitvoer van donkievelle wat die afgelope paar jaar ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

M'Lady ·

Ek is siek en sat van hierdie barbaarsheid teenoor diere. Hulle verdien dit nie. China is die skuldige party.

Johannes Meintjes ·

Nog ‘n resultaat van desperate “besigheid” in die Piesangrepubliek van Gupaland waar die eokonomie ineengestort het en geen van ons talle baiepraat-leiers (of die burgers op sosiale media) opgewasse is om die ekonomie te herstel nie.

jean ·

Ek ons is veronderstel om oor Sy skepping te heers…maarons roei alles voor die voet uit om die “belustinge” te versadig…

tamboti ·

Dit is net baie eienaardig dat “MENSE” wat bewus is van sulke dade, dit aanskou of meedoen in die handel, geen gewete of simpatie het nie. Dit is net ‘n bewys dat daar geensins van beskaafdheid gepraat kan word t.o.v. die hedendaagse samelewing.
WAT is volgende: handel in menslike velle?

Theresa ·

Dis afgryslik en hierdie gebruik moet uitgeroei word – wortel en tak. Die misbaksels wat hieraan skuldig is, moet erg gestraf word. Hoop die polisie of die DBV het mense daar wat kan spioeneer om te sien wie terugkom (neem hul af vir identifikasie). Hoe durf ‘n ding wat sê hy’t ‘n brein so iets aan ‘n dier doen.

Joey Fourie ·

Want ons het ‘n regering met geen morele waardes nie, en wat enigiets sal doen vir geld. Nou word daar met ‘n land wat om een of ander duistere rede “medisinale waarde” aan donkievelle heg (China) selfs hierin handel gedryf. My hart is stukkend!

Justine Wiese ·

Wat is die kontak besonderhede (telefoon en e-pos) vir die NDBV Plaasdierebeskermingseenheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.