Velskenking kan brandslagoffers se lewens red

npc-orgaanskenking-2018-08-01-01

V.l.n.r is Eric Nefdt, die Jakarandastad se eie Spiderman wat hardloop vir die bewusmaking van orgaan- en weefselskenking, Jooste Vermeulen, kommunikasiedirekteur van die Orgaanskenkerstigting, en Cleo Ndhlovu van die TUT se sentrum gemoeid met die verkryging en verskaffing van menslike weefsel vir inplanting en oorplanting (Centre for Tissue Engineering). Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Dink aan jou vel as ʼn Godgemaakte pleister of verband. Hierdie natuurlike pleister kry die helingproses ná ʼn brandwond aan die gang en daarsonder is die slagoffer se pad na gesondheid soveel langer, of gebeur dalk selfs nie eers nie.”

Cleo Ndhlovu van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se sentrum gemoeid met die verkryging en verskaffing van menslike weefsel vir inplanting en oorplanting (Centre for Tissue Engineering) het Woensdag by ʼn mediakonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria opnuut ʼn beroep gedoen aan Suid-Afrikaners om orgaan- en/of weefselskenkers te word.

Augustus is die maand waarin daar bewusmaking vir orgaan- en weefselskenking gedoen word. Volgens die Orgaanskenkerstigting sal 80% ʼn orgaanskenking aanvaar om hul lewens te red, tog het 80% van dié mense wat aan die opname deelgeneem het op nog ʼn vraag aangedui hulle is onseker of hulle hul organe of weefsel sal skenk.

Ndhlovu het gesê die sentrum se velbank is onder druk om genoeg velskenkings vir plaaslike brandslagoffers te verskaf.

“Sedert die sentrum se velbank in April 2016 geopen is, het ons nog nooit genoeg gehad om brandslagoffers mee te behandel nie. As ons dit in vergelyking met bloedskenking moet uitdruk, sal ons tans minder as twee dae se voorraad beskikbaar hê,” het Ndhlovu verduidelik.

In die wêreld sterf vyf in elke 100 000 mense aan brandwonde. In Suid-Afrika is daardie syfer 8,5 in elke 100 00, met 268 erge brandgevalle wat per jaar aangemeld word.

Dit is veral tydens die winter – met brande in informele nedersettings en veldbrande – wanneer die meeste gevalle by hospitale aangemeld word. In die meeste gevalle is die slagoffers kinders.

“Mense moet onthou enige iemand kan ʼn brandwond maklik en enige tyd van die jaar opdoen. ʼn Bejaarde kan haar-/homself in badwater verbrand, want sy/hy het dalk net vir ʼn oomblik vergeet sy het nog nie koue water ingetap nie. ʼn Kind kan ʼn ketel se koord gryp en kookwater oor hom uitstort. Of jy is dalk lus vir slaptjips en mors per ongeluk kookolie op jouself.”

Die sentrum se velbank het in 2016 sowat 65 weefselpakke verskaf wat ongeveer 600 vierkante sentimeter vel bevat. In 2017 is daar 106 weefselpakke verskaf en dit het in ongeveer 59% van dokters se versoeke vir velskenkings voorsien. Teen die einde van Junie vanjaar is daar nog net 60 weefselpakke verskaf.

“Ek dink nie ʼn mens moet dink dit was die totale behoefte aan velskenkings in die land nie. Sommige dokters weet hoe benard ons situasie is met skenkers en daarom besluit hulle dikwels om brandslagoffers op ʼn alternatiewe wyse te behandel,” het Ndhlovu verduidelik.

ʼn Veloorplanting het verskeie voordele vir ʼn pasiënt met erge brandwonde:

  • Die wonde kan onmiddellik bedek word;
  • Dit verminder vogverlies en veltemperatuur;
  • Dit beskerm die pasiënt teen bakterieë, swamme en virusse; en
  • Oppervlakkige brandwonde word vinniger gesond.

Dié oorplanting is nie so traumaties en pynlik soos sintetiese behandeling nie. Dit los minder letsels en is boonop ʼn goedkoper behandeling.

Ndhlovu het gesê sy glo mense besef gewoonlik nie hulle kan ook weefsel soos been, vel, korneas, ligamente, kraakbeen en kardiovaskulêre weefsel skenk nie.

“Weefselskenking sal ook nie enigsins met die begrafnisreëlings inmeng nie, maar ons het die toestemming van ʼn persoon se familie nodig vir ʼn weefselskenking.”

Volgens haar is die grootste uitdaging as ʼn familie sê hulle wil eers gaan dink voor ʼn skenking gemaak kan word.

“Ons moet korneas binne 12 uur ná ʼn sterfte kry. Ander weefsel, soos vel, is 24 uur, terwyl bene binne vyf dae verkry moet word, afhangende van die omstandighede waarin die persoon dood is, die toestand van die lyk en of dit verkoel is.”

Jooste Vermeulen, kommunikasiedirekteur van die Orgaanskenkerstigting, het gesê volgens die navorsing wat die stigting gedoen het, het hulle bevind dat 70% van die mense bewus is van orgaanskenking, maar weet nie van die moontlikheid om hulle weefsel te skenk nie.

“Mense het vir ons gesê hulle is te bang om hul weefsel te skenk want hulle wil nie hê hul oë moet uitgepluk of hul vel moet afgeskil word nie. Min mense besef hierdie is klein prosedures wat ʼn groot verskil in die lewe van ʼn brandslagoffer kan maak. ʼn Eenvoudige ja vir weefselskenking kan ʼn kind se lewe red,” het hy gesê.

Ndhlovu het bygevoeg dat ʼn velskenking tot twee jaar in die sentrum se velbank gestoor kan word.

Beide Vermeulen en Ndhlovu het gesê dat daar reeds talle studies gedoen is om tegnologie te gebruik om menslike organe en weefsel te vervang in oorplantings.

“TUT se sentrum het al navorsing gedoen om ʼn pasiënt se eie vel te kweek. Die navorsing is aan die beginstadium en tyd en nood is dus teen ons. Menslike weefsel oortref steeds een kunsmatige weefsel,” het Ndhlovu gesê.

Vermeulen het gesê navorsers het twintig jaar geneem om ʼn kunsmatige nier te ontwikkel en dié nier is verlede jaar in ʼn oorplanting getoets.

“Ons moet egter realisties wees, dit sal nog ʼn lang tyd duur om dié soort tegnologie na Suid-Afrika uit te voer.

“In die tussentyd moet die publiek onthou dat ʼn orgaanoorplanting eintlik vinniger en goedkoper is as om ʼn persoon vir ʼn jaar lank vir dialise-behandelings te stuur.”

eric-nefdt-spiderman

Eric Nefdt is Pretoria se eie Spiderman en wil nou ‘n avontuur Luderitz toe aanpak om die kollig op orgaan- en weefselskenking te plaas. Foto: Facebook.

Jy kan ook ʼn superheld wees

Eric Nefdt, Pretoria se eie Spiderman, het ook die mediakonferensie bygewoon. Hy het bevestig dat hy Saterdag van Lynnwood sal vertrek om die lang pad na Lüderitz, Namibië aan te pak vir die bewusmaking van orgaan- en weefselskenking.

Nefdt het vroeër vanjaar met Maroela Media oor sy planne gesels en gesê hy wil die 1 500 km binne 35 dae in sy superheldpak aflê in die hoop om ook ʼn Guinness-wêreldrekord op te stel.

“Ek het twee goed besef sedert ek besluit het om hierdie lang pad aan te durf: dit neem baie meer beplanning as wat ʼn mens dink en ek hardloop deur die weste van Suid-Afrika, wat minder bewoon word, maar steeds maak die mens hul harte en hande maklik vir my oop.”

Nefdt glo elke mens is en kan eintlik ʼn superheld in eie reg wees.

“Jy kan soveel mense help deur iets eenvoudigs, soos weefsel- of orgaanskenking, en ek wil almal aanmoedig om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

marous ·

Kan dit ongelukkig nie doen nie want my vel se kleur is nie aaneemlik nie …..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.