Ventersdorp-plaasmoord: Vrou met dood gedreig

Annerie Grobler. Foto: Verskaf

Annerie Grobler. Foto: Verskaf

Weke voordat Annerie Grobler (55) wreed op ʼn plaas buite Ventersdorp in Noordwes vermoor is, het haar seun haar gehelp om haar huis te beveilig nadat sy ʼn doodsdreigement ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig Grobler is vroeg Sondagoggend dood aangetref op die plaas wat voorheen aan Eugene Terre’Blanche, oudleier van die AWB, behoort het. Sy het die afgelope paar jaar as bestuurder op die plaas gewerk waar sy alleen gewoon het.

De la Rey van Huyssteen, Grobler se broer, het aan Maroela Media gesê dat Grobler op ʼn dag ʼn werker aangespreek het oor die manier waarop hy die perde behandel het. Kort daarna het ʼn ander werker haar glo gewaarsku dat haar lewe moontlik in gevaar kan wees.

Van Huyssteen het gesê selfs nadat Grobler ʼn doodsdreigement ontvang het, kon sy dit nie oor haar hart kry om die plaas te verlaat nie. “Sy was te lief vir die diere. Sy kon nie net weghardloop en hulle aan hul eie genade oorlaat nie. ʼn Maer skapie kon vir Annerie dae lank laat wakker lê. Sy is was ontsaglik lief vir die diere.”

Hy het gesê Grobler se seun, Drikus, is hierna na die plaas om haar te help om die huis te beveilig deur bykomende veiligheidshekke in te sit en vir haar ʼn ekstra selfoon te kry indien sy dalk moes hulp ontbied. “Sy is toe nie in haar huis aangeval nie.”

Grobler se liggaam is omstreeks 08:30 voor die hek van die beeskraal gekry. Sy is met groot klippe en ʼn tuinvurk vermoor. “Sy was die oggend [van haar dood] klaar in haar bakkie en het in die ry met my ma oor die foon gepraat. Sy het vir my ma gesê sy wonder hoekom ʼn hek wat altyd oop is nou skielik toe is en het afgelui om die hek oop te maak. Ons vermoed dat die aanval net daar begin het.”

Van Huyssteen het gesê die nadoodse ondersoek is Donderdag afgehandel, maar die familie het nog nie ʼn verslag ontvang nie. “Ons het gister na haar gaan kyk. Ek kan nie verstaan hoekom hulle haar so stukkend moes slaan nie. As ons ʼn slang op die plaas kry, dan skiet ons hom dood, maar ons slaan hom nie met klippe stukkend nie. Daar is net geen rede om so wreed te wees nie. Toe ek haar gister sien … Hulle het haar gebreek.”

Hy het gesê hy was nie Donderdag in die landdroshof in Ventersdorp waar ‘n 32-jarige verdagte vir die moord op Grobler verskyn het nie. “Al ons boere besef dit is ʼn wrede wêreld waarin ons kos moet produseer. Ons almal gaan eendag hierdie wêreld verlaat en dan moet ons hemel toe gaan. Ek wou nie Donderdag in die hof wees nie, want ek wil my en my familie se harte bewaar. Ons kan nie toelaat dat haat ons harte oorneem nie. Ek is nie kwaad vir hom (die verdagte) nie. Maar ek is stukkend en seer.”

Hy vertel dat hulle ná Grobler se dood ʼn papier in haar Bybel gekry het met ʼn gebed wat sy uitgeskryf het. “Daarin het sy gebid dat die Here haar ʼn omgewing sal gee waarin sy veilig sal voel en waar mense vriendelik met haar sal omgaan. Sy het definitief begin hoop dat sy van daardie plaas kon wegkom en dat sy nie meer daar hoef te werk nie.”

Van Huyssteen het gesê hy sal sy suster onthou vir die hardwerkende, pligsgetroue en eerlike mens wat sy was. “Sy was vol streke, maar sy was ʼn boere-mens en so lief vir die natuur en diere. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie, van voersakke ronddra tot fisiek self die perde kosgee, sy het alles gedoen. Sy was baie eensaam op die plaas, maar sy het daar gebly, want dit is waarvoor sy lief was.”

ʼn Polisiewoordvoerder van Noordwes het gesê die ander verdagtes betrokke by Grobler se moord is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Milan

Ek aanvaar die post mortem verslag is grafies van aard. Met sulke berigte is dit moeilik om nie haat met haat te vergeld. Vasstaan my volksgenote, God slaap nie.

Otter

Hoe lank moet die plaasmoorde nog aangaan? Die slagoffers is ons Afrikaners se vriende en familie.

Pastoor

Ons volk lei onder die vyand. Dit word tyd om saam te staan in gebed. Ps 91
Dit pla nie die regering nie.

JC

Ek beaam Otter; HOE LANK MOET HIERDIE SINNELOSE PLAASMOORDE NOG AANGAAN????? SOLANK DIE RYKES ‘N DUUR DUITSE MOTOR, ‘N LANIE HUIS, EN ‘N VAKANSIE BY DIE SEE KAN HOU AAN DIE EINDE VAN DIE JAAR, GEE HULLE WERKLIK NIE ‘N DOOIE DUIT OM NIE. DIT IS ONS GEWONE AFRIKANERS WAT NOG ALTYD DIE KASTAIINGS UIT DIE VUUR MOES KRAP EN SELF AL HET ONS NIE BUITENSPORIGE GELD NIE IS ONS DIE PERSONE WAT VIR BURGERREGTE ORGANISASIES WAT TERUG BAKLEI SOOS AFRIFORUM ONDERSTEUN EN DIE DIE RYKES NIE!! ASB!! BOERE, WEES PARAAT HIERDIE FEESEISOEN, -DIT IS WANNEER DIE ERGSTE WANDADE VOORKOM.… Lees meer »

Hannelie

Ek weet hoekom hulle haar so wreed dood gemartel het…. SY WAS WIT.