Verander die beleid, nie die vlak nie, sê TLU SA

(Argieffoto: pixabay)

Die beweging van Suid-Afrika van vlak twee na vlak een van die afsonderingsregulasies sal geen wesenlike verskil vir die ekonomie inhou nie. Dit is bloot ʼn voortsetting van die regering se politieke magspel, meen TLU SA.

“Hoe gouer die beperkings heeltemal opgehef word, en Suid-Afrikaners self die verantwoordelikheid vir hulle gesondheid neem, hoe vinniger sal die meganismes om die ekonomie weer te laat funksioneer, aan die gang kom,” het Henry Geldenhuys, die president van TLU SA, in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie ondersteun die Business for Ending Lockdown-veldtog waarmee verskeie bekende ekonome, besighede en organisasies aandring dat die grendelstaat beëindig, die ramptoestand opgehef en alle regulasies in vrywillige aanbevelings omskep word.

“Indien ʼn tweede vlaag van die pandemie en inperking Suid-Afrika tref, beskik die land nie oor die kapasiteit om die gevolglike ekonomiese vloedgolf en hongersnood te hanteer nie, juis as ʼn gevolg van die volgehoue inperkingsmaatreëls,” het Geldenhuys bygevoeg. “Hoewel die land nou na vlak een ten opsigte van Covid-19 beweeg, staan die ekonomie, werkloosheid en armoede op vlak vyf en groei dit steeds in die verkeerde rigting.”

Hy het gesê die president se versoek dat landsburgers nou skouer aan die wiel moet sit om die ekonomie weer aan die gang te kry, druis loodreg in teen die ANC se ekonomiese beleid. “Dié beleid van verwarring en onsekerheid het die land reeds voor die aanvang van Covid-19 tot rommelstatus gedryf. Ekonomiese groei is die resultaat van vertroue omdat die korrekte ekonomiese prosesse gevolg word.”

TLU SA is steeds ernstig bekommerd oor die ANC wat vasklou aan prosesse soos onteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank. “Daar moet nou vertroue by beleggers geskep word om die ekonomie op te bou, maar dit is onmoontlik indien daar met hierdie beleid volhard word. Die regering kan nou bewys dat die toekoms van die land se inwoners ʼn prioriteit is. Sien om na die veiligheid van elke inwoner en doen iets daadwerklik om misdaad onder beheer te kry.”

Geldenhuys meen die sinkende ideologieë van sosialisme en kommunisme, wat nog nooit iets anders as armoede en mislukking tot gevolg gehad het nie, moet laat vaar word. “ʼn Ekonomiese beleid geskoei op die beginsel van privaat besitreg en die vryemark sal positiewe ekonomiese gevolge hê. Dit is nou die tyd om die algemene beleid te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joggie ·

Die kommunistiese cANCer sal nooit verander nie! Tyd dat die Wes Kaap afstig!

Hendrik ·

Dit is iets om voor te strewe, MAAR dan moet die ANC se mags beheptheid eers gebreek word. Dit sal moeilik wees want baie mense het nie die vermoe om dinge so te sien nie. Die jare se indroktenering moet eers gebreek word.

Adeline ·

Oplossing – VERWYDER DIE cANCer uit die parlement PUNT. dan is die magsbehepte probleem in ons land opgelos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.