‘Verbeter disfunksionele skole en pak eerder unies’

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Dinsdagaand gesê die aanlyn aansoekstelsel verwyder die probleem van aansoekvorms wat verdwyn en ouers hoef nie meer te sukkel om appèl aan te teken as hulle kind se aansoek by ‘n spesifiek skool verwerp is nie. Foto: @EducationGP/Twitter.

Die Gautengse onderwysdepartement moet eerder meer skole van goeie gehalte voorsien as om bestaande uitnemende skole te dwing om meer leerders in te neem en sodoende positiewe ouergemeenskappe te vervreem.

So meen die Skoleondersteuningsentrum (SOS) na aanleiding van ʼn inligtingsessie Dinsdag oor die voorgestelde verandering in regulasies vir skole in dié provinsie.

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, het in Julie die voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies tot openbare skole in die staatkoerant gepubliseer. Die nuwe regulasies beoog om toegang tot skole vir alle leerders in die provinsie te vergemaklik deur Lesufi die mag te gee om te besluit oor skole se taal- en toelatingsbeleid, asook in watter skool ʼn leerder geplaas moet word.

Lesufi het tydens dié inligtingsessie by Sutherland High School in Centurion aan ouers gesê daar is genoeg klaskamers en skole in die provinsie om alle leerders in te neem, maar die uitdaging is dat sommige skole meer aansoeke as ander ontvang.

“Die manier waarop woonbuurte tydens die vorige bedeling gestruktureer is, het veroorsaak dat goeie skole net in sekere woonbuurte gesetel is. Dit veroorsaak dat baie leerders nie toegang tot gehalte-onderrig het nie, net omdat hulle in ʼn sekere gebied gebore is,” het hy gesê.

“Eerder as om ouers die mag oor hul eie skole te ontsê, moet die LUR daarop fokus om disfunksionele skole te verbeter sodat leerders nie na skole ver van hul huise hoef te pendel vir gehalte-onderwys nie,” het Melanie Buys, hoof van stelsels by die SOS, gesê.

Buys meen Lesufi kan die probleem ook oplos deur goeie, hardwerkende onderwysers in skole aan te stel en meer skole te bou. “Die departement moet standpunt inneem teen die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) wat dikwels onbevoegde skoolhoofde en onderwysers beskerm en teen leerders se belange optree.”

Sy verwys na die Sentrum vir Risikobestuur (CRA) se verslag wat vandeesweek bekendgestel is waarin aangevoer word die regering het geen politieke wil om die skade wat Sadou veroorsaak, aan te raak nie. Die verslag sê verder die regering het ook geen ideologiese aptyt om ouers en gemeenskappe meer beheer en mag oor mislukte skole te gee nie.

melanie-buys-sos-skoleondersteuningsentrum

Melanie Buys, SOS se hoof van stelsels, sê navorsing het bewys skole floreer waar gemeenskappe by die skole betrokke is. Foto: Verskaf.

Buys het verder haar kommer uitgespreek oor die plasing van leerders met spesiale behoeftes, wat toenemend sukkel om betyds plek te kry met die Gautengse onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel. “Ek kan nie help om te wonder hoe hierdie kwesbare kinders se plasing deur die voorgestelde wysigings geraak sal word nie.

“Solank ʼn gemeenskap eienaarskap neem van skole in die omgewing en ouers hul tyd, geld en kundigheid in die skool stort, sal en kan skole floreer. Sodra die gemeenskap enigsins hul inspraak en besluitnemingsmag oor skole ontneem word, sal hulle hierdie hulpbronne onttrek en sal skole agteruitgaan,” het Buys bygevoeg.

Die SOS het onderneem om voor 29 Augustus ʼn formele voorlegging aan die departement te maak waarin hy die teenkanting teen die voorgestelde wysiging van die toelatingsregulasies volledig sal uiteensit.

Die sentrum het verlede week ʼn platform #VIRskole bekendgestel waar ouers en onderwysers self kommentaar oor die voorgestelde wysigings kan indien.

“Hierdie kommentaar sal dan saam met die SOS se voorlegging by die Gautengse onderwysdepartement oorhandig word,” aldus Buys.

Die Gautengse onderwysdepartement het nog ses inligtingsessies oor die voorgestelde wysigings aan openbare skole se toelatingsregulasies vir 2019 geskeduleer.

Ouers wat die geleenthede wil bywoon, kan ʼn aantekening van die volgende datums en tye maak:

  • Hoërskool Montana op Woensdag 22 Augustus om 17:00
  • Mondeor High School op Donderdag 23 Augustus om 17:00
  • Hoërskool Krugersdorp op Maandag 27 Augustus om 17:00
  • Hoërskool Overvaal op Dinsdag 28 Augustus om 17:00
  • Edenvale High School op Woensdag 29 Augustus om 17:00
  • Bryanston High School op Donderdag 30 Augustus om 17:00

Panyaza Lesufi is die LUR vir onderwys in Gauteng. Foto: ANA

Intussen het die VF Plus Dinsdag ʼn mediaverklaring uitgereik waarin die party gesê het hy het Lesufi vir minagting van die Grondwet by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer aangekla.

“Lesufi het artikel 29 van die Grondwet reeds 272 keer geminag. Artikel 29 van die Grondwet stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is,” het Philip van Staden, die VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer, gesê.

Van Staden sê sy party het hierdie klag teen Lesufi ingedien nadat hy op 12 April die aanlyn registrasiestelsel vir gr. 1 en 8-leerders aangekondig het. Die stelsel het verskeie wenkbroue laat lig omdat Lesufi dit toe reeds duidelik gestel het dat die taalbeleid van Gautengse skole geen rol in die aansoekproses sal speel nie.

“Lesufi se jongste poging om Afrikaans as taal en Afrikaanse skole te vernietig is reeds in die staatskoerant gepubliseer. Die VF Plus is van mening dat die LUR se pogings nie langer geduld mag word nie en dat hy nou die gevolge van sy dade moet dra, daarom het ons die integriteitskommissaris versoek om die klagtes teen Lesufi te ondersoek en die nodige stappe te doen.”

Van Staden het die hoop uitgespreek dat die ondersoek na die klag met die nodige erns hanteer sal word.

Indien Lesufi skuldig bevind word, moet hy sy amp as LUR en lid van die provinsiale wetgewer ontruim omrede hy dan die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zoom zoom ·

Daar is genoeg skole ja. Maar dan moet jy 100 kinders in ‘n klas sit. Die Lesufi het antwoorde op alles en hy glo ook net in homself

Celtis Africana ·

” Die manier waarop woonbuurte tydens die vorige bedeling gestruktureer is, het veroorsaak dat goeie skole net in sekere woonbuurte gesetel is.”
Wat n hoop twak wat die man hier kwytraak!
Skole is opgebou deur toewyding, harde werk, dissipline en n ondersteunende gemeenskap.
Terwyl sy stemvee ge ” leberation before education” het, is skole dag vir dag opgebou.
Nader aan die waarheid sal sekerlik wees om te sê dat die meerderheidsregering se pogings om n stabiele en goeie skolesisteem te vestig, jammerlik misluk het deur n kapasiteitsgestremdheid, politiekery en ongekende korrupsie wat in n kwarteeu van verrotting nie te bowe gekom kon word nie.

Hanna Hoekom ·

Moet alles, absoluut alles, tot in die afgrond getrek word om by die Afrika standaard uit te kom? Hospitale, munisipale dienste, skole… Noem maar op! Niks word opgehef of eens in stand gehou nie. Alles moet net afgetakel en uiteindelik vernietig word. Dan is dit op “Afrika-standaard”.

Slotrede ·

Onheilspellend is die wóórd ..
wat duidelik opskiet as ek iets lees hoor of sien
wat met bg man en sy bemoeienisse met pedagogiek (opvoedkunde) te doen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.