Verbied ‘omkeerterapie’ vir gay kinders – DA

Siviwe Gwarube van die DA. (Foto: Facebook)

Die DA beplan om ’n privatelede-wyigingswetsontwerp in te dien wat dit onwettig sal maak om homoseksuele kinders te beraad in ’n poging om hulle seksuele oriëntasie te verander.

Luidens ’n verklaring wat onlangs deur die DA uitgereik is, volg dié voorgestelde wetsontwerp op ’n resolusie wat verlede jaar by die DA se federale kongres aanvaar is om die sogenaamde “omkeerterapie” van minderjariges in die LGTBQIA-gemeenskap onwettig te laat verklaar.

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder, sê dat omkeerterapie volgens die huidige wetlike raamwerk ingevolge die Kinderwet nie verbied óf as ’n oortreding beskou word nie.

“Die DA glo dat minderjariges nie aan dié laakbare praktyk onderwerp behoort te word nie en dat dit, soos in Kanada en Brasilië, in Suid-Afrika verban moet word.”

Volgens Gwarube is omkeerterapie ’n “gevaarlike praktyk” wat valslik onderneem om kinders se seksuele oriëntasie te verander.

“Artikel 9 van die Grondwet lui dat die staat nie onregverdig, direk of indirek, teen enigiemand op grond van geslag of seksuele oriëntasie mag diskrimineer nie.

“Beskerming teen omkeerterapie is in die belang van jong mense en kinders binne die LGBTQIA-gemeenskap,” sê Gwarube.

Volgens haar is die skadelike nagevolge van dié terapie op mense se geestelike en emosionele welstand wyd nagevors en internasionaal aangeteken, wat ook as stawende bewyse dien dat dié praktyk ondoeltreffend, gevaarlik en uiters oneties is.

“Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters het ook aangedui dat daar geen wetenskaplike bewyse is dat dié terapie werk nie. Daar is egter bewyse dat dit uiters nadelig kan wees.”

Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, sê die organisasie is bewus daarvan dat die voorgestelde wetsontwerp oorweeg word.

“FOR SA sal die saak fyn dophou, maar voordat daar nie iets op skrif is nie, sal ons nie kommentaar kan lewer of optrede voorstel nie.

“Sodra die wetsontwerp vir kommentaar gepubliseer word en ons dit kan evalueer, sal ons ’n aanbeveling uit ’n vryheid van geloofsoogpunt kan maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.