Verbod op Delta Air is ‘rampspoedig’

Foto: Delta Air Lines/Facebook

Die Demokratiese Alliansie verwerp die “rampspoedige” besluit deur die departement van vervoer om die Amerikaanse lugdiens Delta Air Lines te verbied om na en van Kaapstad te vlieg.

Dit het aan die lig gekom dat die regering die lugdiens se herhaaldelike versoeke, om in Kaapstad stil te hou as deel van Delta se Atlanta-Johannesburg-diens, verwerp het.

“Ons doen ʼn beroep op minister Fikile Mbalula om te verduidelik waarom die ANC-regering dié onsinne besluit geneem het,” sê Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer. “Die besluit het nie net verreikende gevolge vir toerisme in die Wes-Kaap nie, maar kan ook tot werksverliese lei. Dit maak nie sin waarom enige winsgewende onderneming, wat ʼn invloei van toeriste na ons kuslyn sal beteken, geblok word nie – veral nie in die lig van die ekonomiese verwoesting wat die uitgerekte Covid-19-afsonderingsperiode meegebring het nie.”

Die DA sal met kenners in die lugvaartbedryf, die Amerikaanse ambassade en Stad Kaapstad in gesprek tree oor die situasie.

“Ons verwelkom die inisiatief deur Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid James Vos en Wesgro wat na die nasionale regering en ander lugvaart-belanghebbendes uitgereik het om ʼn oplossing te vind sodat Delta Air Lines ʼn roete na Kaapstad kan bedryf.”

Die DA maan die regering om die besluit om te keer wat Delta verhoed om op dié roete te vlieg. Dit het reeds tot gevolg gehad dat die VSA ʼn beperking plaas op die SA Lugdiens (SAL), sê Hunsinger. “SAL kan nouliks oorleef onder sy eie wanbestuur en kan beslis nie beperkings van Amerika teen hom bekostig nie.”

Hunsinger meen as Suid-Afrika en sy ekonomie die Covid-19-pandemie wil oorleef, “dan het ons toegang tot so veel as moontlik geleenthede nodig om die ekonomie te laat herleef”. “Toerisme bied ʼn gulde geleentheid vir entrepreneurs om klein ondernemings te bedryf wat tot werkskepping sal lei. Die regering moet nie in die pad staan van die lewensbestaan van sy mense nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rian

Dis maar net nog n lat om die Da beheerde Kaap mee by te kom. Verpestelike anc klein mannetjie sindroom.

Charmain

Delta Air betaal seker nie genoeg bribes nie

Althes

Die ANC is afgunstig op die Weskaap.

Boerkind

Skande Fikile! Hoe het jy in jou posisie gekom? Die een na die ander kader word ontbloot…

Jaco

Die antwoord is eenvoudig: bloei die Wes-Kaap dood, want dit word mos regeer deur “die rassistiese DA”