Verbod op ‘Inxeba’ tydelik gelig

Inxeba – The Wound (Foto: ANA)

Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag gelas dat die verbod op die omstrede Suid-Afrikaanse fliek Inxeba (The Wound) tydelik gelig word.

Die fliek sal weer van 9 Maart in hoofstroomfliekteaters landwyd te sien wees.

Luidens ʼn verklaring kom Dinsdagoggend se hofuitspraak nadat die vervaardigers en verspreiders van die rolprent ʼn dringende hofaansoek gebring het om te versoek dat die X18-beperking op die fliek opgehef moet word, wat die fliek terug na die openbare domein sal bring sodat dit nie net meer in volwasse winkels bekom kan word nie.

Die vervaardiger se regsverteenwoordigers het versoek dat die Rolprent- en Publikasieraad (FPR) se appèltribunaal sy besluit hersien om Inxeba se ouderdomsbeperking aan te pas nadat die FPR die fliek as pornografie geklassifiseer het en die ouderdomsbeperking na X18 vir die klassifiseerbare elemente van seks, kru taal, naaktheid, geweld en vooroordeel verander het.

Die vervaardigers van die fliek, Urucu Media, asook die fliek se verspreiders, Indigenous Film Distribution, het deur hul regspan, Webber Wentzel Prokureurs, hulself tot die hof gewend om te versoek dat die tribunaal se gradering omgeswaai word.

Die hof het gelas dat die fliek tydelik vertoon kan word in hoofstroomfliekteaters en dat die ouderdomsbeperking na die oorspronklike gradering aangepas word terwyl die appèltribunaal die aanvanklike bevinding deeglik hersien. Die uitslae van dié hersiening sal op 28 Maart bekendgemaak word.

Die Congress of Traditional Leaders (Contralesa) in Gauteng, The Man and Boy-stigting en die appèltribunaal het aangedui hulle sal die hofuitspraak teenstaan.

Die FPR het vroeër in ʼn verklaring hulself van die appèltribunaal se gradering gedistansieer.

Die FPR het hofdokumente ingedien wat sy aanvanklike ouderdomsbeperking van 16 LS vir die fliek verdedig waarin hy aandui dat dit na sy mening onnodig was om die ouderdomsbeperking aan te pas. Die FPR het aangedui dat hy nie met die aangepaste beperking saam stem nie.

Cait Pansegrouw, die vervaardiger, het in reaksie op die hofuitspraak gesê sy hoop die hersiening van die beperking sal daartoe lei dat die fliek minder teenstand kry en dat mense hul reg om die fliek te sien kan uitoefen.

John Trengove, regisseur van die fliek, het die opheffing van die verbod as ʼn oorwinning vir die fliek bestempel. “Die Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap verdien ʼn verduideliking oor die tribunaal se vernederende skending van ons wetlike en grondwetlike regte in die eerste plek. Ons sien uit daarna om meer duidelikheid te hê in die komende weke.”

Inxeba-ster Niza Jay het gesê hy is verheug dat die fliek weer in hoofstroomteaters te sien sal wees. “Ek hoop die gesprekke wat deur die fliek ontketen is, sal verder gaan as ʼn warm onderwerp en dat die gesprekke in ons huise, families en gemeenskappe sal plaasvind. Die fliek is groter as almal van ons wat dit gemaak het.”

Volgens Batana Vundla, die medevervaardiger, is die grondwet die ware wenner in die situasie. “Om te sê ons het geweet ons sal seëvier sal ʼn onreg aan onsself en die land doen.”

Helen Kuun, die uitvoerende hoof van Indigenous Film Distribution, het fliekgangers aangemoedig om na die rolprent te gaan kyk. “Noudat ons die wetlike regte deur ʼn hofbevel bekom het om die fliek weer aan die publiek te vertoon, wil ons graag mense aanmoedig om hul ondersteuning te betoon deur na die fliek te gaan kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GABRIEL ·

Mag ek nooit in my lewe so verveeld wees om die gemors te kyk of te ondersteun nie .. dit word nou weer deesdae opgehef en as ‘gesog’ voorgehou … SKENDING VAN GRONDWETLIKE REGTE? Wat van die AFRIKANER se grondwetlike regte?

'n Fliek (en ook nie baie goed nie) ·

Hierdie film is ligjare van goedkoop en platvloerse pornografie en ander derglike nare goeters verwyder. Verder is hierdie film uitsluitlik gerig op baie beperkte gehore. En bowendien is dit nie eers ‘n goeie film nie en het vele tegniese en ander tekortkominge. Met al die bohaai soekery gaan net meer mense nuuskierig word om die fliek te sien. En dit is of was sekerlik glad nie die bedoeling nie. Hierdie fliek was nie bedoel om te kyk terwyl kliphard aan die inhoud van ‘n mega grootte box springmielies gekou word en om heeltyd Sies! En Duiwel! te skree nie.

Catherine ·

Ja nee, mens kan sommer sien die Satan is absoluut in beheer van ons land en ons mense. Dis ‘n skande.

Polonie van die Enterprise ·

Dis elk geval nou gratis op youtube sien ek. Nie dat ek dit gaan kyk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.