Verbod op plaaslike renosterhandel opgehef

Argieffoto Foto: Andrew Taylor, ScienceLine

Argieffoto Foto: Andrew Taylor, ScienceLine

Twee wildsboere het na ʼn jarelange hofstryd daarin geslaag om die handel in renosterhoring in Suid-Afrika te wettig.

Johan Kruger, ʼn wildsboer van Limpopo, het hom in 2012 na die hof gewend om ʼn moratorium, wat in 2009 op die plaaslike handel van renosterhoring geplaas is, te laat lig. John Hume, die grootste renosterboer ter wêreld, met meer as 1 000 renosters op sy plaas buite Klerksdorp, het in 2015 by Kruger se hofgeding aangesluit as die tweede applikant in die saak.

Die departement van omgewingsake (DEA) het die aansoek teengestaan. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in 2015 in Kruger en Hume se guns beslis en die moratorium ter syde gestel. Edna Molewa, minister van omgewingsake, het die hooggeregshof genader om verlof tot appèl, maar dit is van die hand gewys. Molewa het haar toe tot die hoogste hof van appèl gewend, maar die departement se aansoek is Vrydag weer met koste van die hand gewys.

Albi Modise, woordvoerder van die DEA, het aan Maroela Media verduidelik dit beteken die moratorium is dus gelig soos deur die hof beveel. “Dit is belangrik om kennis te neem hierdie uitspraak is geensins van toepassing op die internasionale kommersiële handel in renosterhoring nie. Internasionale handel in renosterhoring word steeds ingevolge die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) verbied,” het Modise gesê.

“Die besit van en handel in renosterhoring in Suid-Afrika is wel toelaatbaar, mits die relevante permitte daarvoor uitgereik is. Iemand wat renosterhoring besit, koop of verkoop binne Suid-Afrika se grense sonder die nodige permitte, oortree die wet en kan tot 10 jaar tronkstraf of ʼn boete van tot R10 miljoen opgelê word.”

Modise het gesê die departement kyk na verdere regsopsies in die verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

m ·

Hierdie permitte geld weer net vir sekeres. Die mense wat ons renosters so uitroei het beslis geen permitte nie. Teen die tempo wat hierdie arme goed geskiet word gaan daar een van die dae niks meer oor wees nie…

Jef ·

Ek was altyd trots op SA se big five maar binnekort as dit so aangaan het ons n big four en dan big three en so boer ons agteruit totdat ons niks meer het nie, dan kan komende generasies dit alleen op n foto sien.
STOP die jag op al hierdie diere.

Nico K ·

Ek is nie seker of hierdie uitspraak van enige nut is nie. Wie koop renosterhoring in SA? Dit sal nie die ou wat met renosters boer veel help nie. En die ou wat oorsee wil verkoop gaan aanhou smokkel.

Berhalet Beukes ·

Vertel die skelms presies waar om 1000 renosters te vind… Dit maak sin.

Xa ·

Klink mal maar jag is BAIE goed vir bewaring vir spesies want dit motifeer grondeienaars om wild aan te joune habitat te bewaar in plaas van beeste ens, en verskeie spesies is al so gered van uitsterwing in SA en elders. Handel kan ook so n positiewe effek he. Gee dit n kans, julle sal sien.

johann cb ·

Nou kan ons alle pogings om hierdie diere se voortbestaan te waarborg maar skrap. HHierdie bied vir die skurke ‘n gaping om hulle ding te doen onder die dekmantel van die wet.

Justa ·

Hoeveel Chinese en Vietnamese sindikate gaan hulle nou voorhou as wettige kopers? Maklik om deur Swaziland land uit te smokkel en Hume en Kruger glimlag breed. Dit gaan net om geld en die aanvraag gaan net meer word ipv minder.

Cherokee ·

Kyk na die foto van daardie 1000 renosters en sien dat hulle horingloos is – (of ten minste een van hulle).

jaco ·

as daardie horing nou mooi netjies afgesaag word sonder om die renoster seer te maak of dood te maak, groei dit dan weer uit?

Cherokee ·

Raak vraag Jaco. Ek dink dat dit soos ‘n vingernael is – dat dit weer groei. Nou waarom word dit dan nie meters lank nie? Waarskynlik omdat dit gebruik en geslyt word.

Cherokee ·

Dankie vir jou antwoord Karin. Ek het ook hierop gereageer maar sekondes voordat joune verskyn het.

Takkie Takuuza ·

Wettig dit heeltemal. Dan kan die boer dit self verkoop en hoef die dier nie doodgemaak te word daarvoor nie. Daar is baie van die goed in kluise regoor die land. Verkoop dit en maak die waarde daarvan minder, dan gaan dit nie meer winsgewend wees om die goed te stroop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.