Verbod op wynuitvoere is ‘magsmisbruik’

Spice Route in die Paarl (Foto: David Ritchie/African News Agency/ANA)

Die Kaapse Kamer van Koophandel het Dinsdag die besluit, om weer ʼn verbod te plaas op wynuitvoere, beskryf as ministeriële magsmisbruik wat die ekonomie sal laat skade ly en niks sal doen om die verspreiding van Covid-19 te bekamp nie.

“Om dit ligtelik te stel: dit is moeilik om die regering se redes te verstaan om weer dié verbod in te stel nadat dit 10 dae gelede opgehef is,” het Geoff Jacobs, president van die Kamer gesê. “Het die tesourie soveel kontant dat hy nie die belasting nodig het uit die winste nie? Tog sekerlik nie. Is die gesondheidsminister besorg oor plaasarbeiders wat druiwe pluk terwyl ʼn veilige persoonlike afstand van mekaar geïgnoreer word? Dit klink ook onwaarskynlik.”

Jacobs voer aan die werklike rede vir die hernude verbod het waarskynlik niks te doen met veilige gesondheidsmaatreëls tydens die verlengde afsonderingsperiode of pogings om die verspreiding van Covid-19 te bekamp of alkoholmisbruik te voorkom nie.

“Die verbod het ten doel om die versoeking te verminder vir bendelede wat die wyn wil steel wanneer dit na die hawens vervoer word vir uitvoere,” het hy gesê. “Dit maak nie saak hoe mens daarna kyk nie. Dit lyk soos ʼn uitstekende voorbeeld van magsmisbruik, maak nie saak watter skade daardeur aangerig word nie terwyl die tesourie elke sent in belastinginkomste van die privaat sektor benodig.”

Jacobs sê die maatreëls om Covid-19 te bekamp kan vergelyk word met ʼn man wat homself in die voet skiet omdat hy aan jig ly. “Hoe vinniger die verbod opgehef word, hoe vinniger kan die Suid-Afrikaanse ekonomie begin herstel sodra die huidige gesondheidsnoodtoestand verby is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boortor ·

Hierdie hele storie is magsmisbruik! Hulle weet seker van n groot hoop geld erens wat hulle reken hulle gaan kry. Klomp patete!

Wilhelm ·

Ongeag of die tesourie die belasting nodig het (en ons weet dat hulle dit nodig het), hierdie is inperkings van ons vryhede om handel te dryf, en vryhede in die algemeen. Besluite wat deur ‘n magsbehepte staat geneem word deur mense wat geen idee het wat hulle doen nie.

Blikkantien ·

Ongelooflik! (Of nie). Dit is asof die regering sy uitste bes doen om die land heeltemal te verwoes. Vanuit vyf besluite waarvan vier die regte en een die verkeerde besluit sou wees, kan jy maar vir seker weet dat die regering die mees verwoestende een sal kies.

Anel ·

Dis net ‘n manier om ons baie vinniger in’ n komunistiese staat te verander.

Oompievis ·

Die klein hondjies moet dit nou uitspook om hul tande te wys al is dit melktande. Ongelukkig is klein hondjies se tande bitter skerp en kan dit nogal seer maak. Hulle moet tog net pasop want daai tandjies wissel maklik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.