Verbreek die siklus van geslagsgeweld

(Argieffoto)

In ʼn land waarin geweld teen vroue en kinders voortduur en boeliery in skole tragiese nagevolge het, is die vraag op elke Suid-Afrikaner se lippe wat ons kan doen om die wortel van die kwaad uit te roei.

Phillip van Rensburg, ʼn kliniese sielkundige wat praktiseer by Akeso in George in die Wes-Kaap, sê misbruikers het dikwels self mishandeling ervaar, hetsy as eerstehandse slagoffers óf deur mishandeling in die gesinsomgewing waar te neem.

Akeso is ʼn groep van private in-pasiënt gesondheidsorgfasiliteite en bied individuele, geïntegreerde en familie-georiënteerde behandeling vir ʼn reeks psigiatriese en psigologiese toestande.

“Misbruikers kom dikwels uit ʼn agtergrond waar hulle as kind nie waardig gevoel het nie, waar hulle gevoel het asof hulle nie aanvaar word vir wie hulle is as mens nie,” sê Van Rensburg.

“’n Kind wat homself in ʼn disfunksionele situasie bevind, soos wanneer hy soos ʼn buitestander in sy gesin voel of wanneer daar ʼn tekort is aan struktuur en roetine, kan later glo dat hy nie as ʼn mens erkenning kry nie en voel dan die enigste manier om beheer te neem oor ʼn situasie of om erkenning te kry is deur iemand te mishandel.

“Die gevoel van mag wat dit meebring versterk die persoon se sin van self en kan in ʼn bose kringloop van mishandeling ontaard. Dit kan reeds deurskemer in kinders wat ander kinders afknou en boelie.”

Dié gedrag is ook algemeen by kinders wie se ouers dood is of nie vir hulle kan sorg nie en wat van een huishouding of plek van veiligheid na die volgende geskuif word.

“Hierdie kinders kan hulself as die probleem identifiseer. Hulle word kwaad en angstig en dit kan lei tot afbrekende gedrag teenoor ander.”

Volgens die “Optimus Study on Child Abuse, Violence and Neglect in South Africa” wat in 2015 uitgevoer is, het meer as 40% van jong mense in Suid-Afrika op een of ander tydstip in hulle lewens verwaarlosing of mishandeling van ʼn seksuele, fisieke of emosionele aard beleef. Met baie gevalle van mishandeling wat nie aangemeld word nie, is die omvang van die probleem egter veel groter.

Van Rensburg verduidelik dat baie misbruikers slinkse taktieke gebruik om beheer te neem oor ʼn persoon of situasie.

“Volwassenes wat kinders mishandel wen die vertroue van hulle slagoffers met byvoorbeeld geskenke of emosionele manipulasie, of hulle wek vrese op deur dreigemente wat ʼn kind verhoed om vir iemand van die mishandeling te vertel.”

Geldelike mishandeling is nog ʼn manier waarop ʼn mansmisbruiker stadig te werk gaan om beheer te neem van ʼn vrouelewensmaat.

“Hy ontmagtig haar onder die voorwendsel dat hy vir haar en die kinders sorg, maar maak ook telkens geleidelik alle deure na ander keuses en geleenthede toe. Dit gaan dikwels oor na fisieke vorms van mishandeling in die huishouding dat hy uiteindelik so ʼn hoë mate van beheer het dat dit die familie lam lê en niemand daaroor praat nie.”

Mishandelde kinders kan misbruik ten opsigte van hul portuur uitoefen in die vorm van emosionele intimidasie, vernedering en fisieke geweld.

“Dit beteken egter nie dat alle kinders wat mishandel is ook misbruikers sal word, of dat alle misbruikers self mishandel is nie, maar daar is dikwels ʼn skakel.”

Mishandeling kan in alle soorte situasies voorkom en is daar algemene patrone wat waargeneem kan word in sekere verhoudings.

“Verwaarlosing sowel as emosionele en fisieke mishandeling word meestal deur ʼn kind se primêre versorgers uitgeoefen. Seksuele mishandeling, aan die ander kant, word dikwels uitgeoefen deur iemand na aan die familie soos ʼn familievriend of uitgebreide familielid.

“Kinders wat mishandel word en vir niemand sê nie, het uiteraard hulp nodig. Besorgde familielede of vriende kan eers agterkom iets is fout wanneer ʼn kind of tiener skielike gedragsveranderinge toon.”

Tekens van gedragsveranderinge om voor op te let sluit in:

  • Regressie in funksionering, soos jong kinders wat die bed nat maak,
  • Depressie of onttrekking by tieners,
  • Simptome van posttraumatiese stres, soos terugflitse of angstigheid,
  • Aggressie en onrustigheid.

Van Rensburg verduidelik dat daar stappe is wat gedoen moet word om ʼn saak van mishandeling aan te meld.

“Vaste bewyse word vereis vir die polisie om betrokke te raak, maar as ʼn volwassene bewus is van ʼn geval van mishandeling behoort dit aangemeld te word ongeag die bewyse. Dit is ook belangrik om die mishandeling onder ʼn betroubare lid van die familie se aandag te bring sodat ʼn span gevorm kan word rondom die persoon wat hulp nodig het.”

Van Rensburg sê daar is baie gevalle waar ʼn misbruiker bereid is om die onderliggende kwessies wat hulle noop om te mishandel te bespreek. Hy sê dat terapie nuttig kan wees en in gevalle waar ʼn psigiatriese afwyking voorkom, soos bipolêre geestesversteuring of skisofrenie, kan die korrekte medikasie ʼn positiewe rol speel.

“Diegene wat aggressief raak wanneer hulle alkohol of ander middels misbruik bring ʼn hele nuwe stel uitdagings na vore. Dit is egter moontlik om werklike verandering te weeg te bring, maar dit vereis toewyding en ondersteuning.

“As die misbruiker ʼn kind is, is dit belangrik dat hulle hulp ontvang wat onderliggende kwessies kan oplos wat hulle daartoe lei om ander te mishandel. Dit is nie net ter wille van diegene wat negatief beïnvloed word deur ʼn kind se gedrag nie, maar ook vir die kind self, wat moontlik self mishandeling of ander ernstige bydraende faktore ervaar.”

Volgens Van Rensburg is dit belangrik om op maatskaplike vlak daartoe te werk om gesprekke te hê sodat genesing kan plaasvind en die stigma en siklus van mishandeling verbreek kan word.

“Dit kan moeilik wees om ʼn misbruiker se oogpunt in te sien, maar hoe meer ons hulle vermy en stigmatiseer, hoe langer word die siklus uitgerek.”

Vir meer inligting oor geestesgesondheidskwessies besoek Akeso se webwerf of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Die skade van geweld teenoor vrouens en kinders is pynlik, ons is tans betrokke by ‘n ma en twee jong kinders wat onder die hande en mond van ‘n man met narsisist persoonlikheids afleiding gely het. Die skade was fisies en sielkundig van aard. Om ‘n jong vrou te sien met ‘n blou oog wat toegeswel om hy haar “geswipe” het met die vuis, die twee kinders skreeu histeries en klou aan mekaar vas vir vertroosting. Hierdie bose ketting van 9 jaar is 7 maande gelede gebreek en dit gaan goed met al drie. Daar is weer glimlaggies op daardie twee klein gesiggies, hulle het geleer om mense te vertrou, drukkies te gee, veilig te voel, geen baklei, geen gevaar.
Ons sien nog die skade en is hoopvol en opgewonde om betrokke te wees by die herstel en toekoms van die mense.
As jy en jou kinders swaar kry onder iemand se hande en mond, breek die ketting, dit is die enigste oplossing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.