Verbroude Gupta-uitlewering ‘nasionale verleentheid’

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Suid-Afrika se verbroude poging om die Gupta-broers van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aan Suid-Afrika te laat uitlewer is ʼn “nasionale verleentheid” wat wys dat die Jacob Zuma-tentakels in die huidige kabinet en regering nog ver strek.

Dít volgens die DA wat ingeklim het onder die regering oor die mislukte aansoek.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag bekend gemaak dat die land met “skok en ontsteltenis” verneem het dat die VAE sy aansoek om uitlewering van die sakemagnate Atul en Rajesh Gupta van die hand gewys het.

Die regering is Donderdagaand oor die besluit ingelig.

Die uitleweringsverhoor is reeds op 13 Februarie in ʼn Dubaise hof afgehandel.

Die Guptas word daarvan verdink dat hulle saam met oudpres. Jacob Zuma gekonkel het om staatsbates na hul eie sakke te herlei.

Suid-Afrika het in Julie verlede jaar die aansoek om uitlewering ingedien, nadat die twee ʼn maand tevore in Dubai aangekeer is. Die inhegtenisneming volg op ʼn uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VAE.

Gebrek aan samewerking

Lamola sê die aansoek is op ʼn tegniese punt afgewys.

Die Dubaise hof het bepaal dat die VAE jurisdiksie het op die aanklag van geldwassery, omdat die beweerde misdaad glo in die VAE en Suid-Afrika gepleeg is.

Oor die aanklag van bedrog en korrupsie het “die hof bevind die lasbrief vir inhegtenisneming wat daarmee verband hou, is gekanselleer”, sê Lamola.

“Die redes wat verskaf is oor waarom ons aansoek van die hand gewys is, is onverklaarbaar en strydig met die versekering wat die Emirati-owerhede gegee het dat ons versoek aan hul vereistes voldoen.”

Die minister het die VAE daarvan beskuldig dat hy nie die Suid-Afrikaanse regering behoorlik gekonsulteer het voor die aansoek van die hand gewys is nie en sê so ʼn “vlak van gebrek aan samewerking” is “uiters ongekend”.

Hy sê Suid-Afrika het net ʼn Arabiese opsomming van die uitspraak ontvang en moes deurnag werk om dit te verstaan en te ontleed. “Dit is die lewe wat ons met die owerhede in die VAE gely word,” het ʼn gefrustreerde Lamola gesê.

“Ons is steeds van voorneme om met ons eweknieë te praat om te verseker dat daar teen die hof se besluit geappelleer word.”

 ‘Skandelik’

Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, sê die uitkoms is ʼn skande en bevestig dat die minister geen beheer oor sy portefeulje het nie en sy plig versaak.

Die departement is eers gister van die “monumentale mislukking” in kennis gestel.

“Dit laat die vraag ontstaan oor wat presies die strafreggroepering die afgelope jaar gedoen het. Elke navraag is afgesny en met leë versekerings beantwoord dat alles onder beheer is,” sê Breytenbach.

“Dit is duidelik ver van die waarheid.”

Dit is ook gʼn wonder nie dat daar berigte is dat die Gupta-broers die wêreld met hul Suid-Afrikaanse paspoorte plat reis nie, sê sy.

Luidens mediaberigte is die twee Guptas laat verlede maand in Switserland opgemerk.

“Was daar ooit erns met die voorneme om hierdie oortreders suksesvol te laat uitlewer, veral as in gedagte gehou word wat die gevolge sou wees vir soveel hooggeplaaste ANC-lede?” sê Breytenbach.

Miljarde verlore

Die twee Indies gebore broers is die spil van die enorme staatskaping wat tydens Zuma se nege jaar lange termyn geseëvier het.

Die superryk broers het vir meer as twee dekades ʼn enorme sakeryk in Suid-Afrika opgebou nadat hulle van Indië hierheen geëmigreer het. Die twee het in 1993 in Suid-Afrika aangekom, ʼn jaar voor Nelson Mandela as die land se eerste demokratiese president verkies is.

Tydens Zuma se bewind het hulle betrokke geraak op die hoogste regeringsvlakke en in die regerende ANC en het hulle onder meer ʼn hand gehad in die aanstelling van ministers, het die Zondo-kommissie na staatskaping vroeër bevind.

Na raming het die Guptas se beweerde misdade die land nagenoeg R50 miljard gekos.

Hulle het in 2018 na die VAE gevlug toe die net om vermeende staatskapers al nouer begin span het.

Zuma én die broers ontken alle skuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.