Soorte resepte:

Verbruikers dok al meer vir kookolies op

Sonneblomolie se prys het drasties gestyg. Maroela Media het gaan uitvind wat dit veroorsaak het. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Het jy die drastiese styging in die prys van kookolie opgemerk? Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) is daar oënskynlik geen keer aan die prys van kookolie nie.

ʼn Maroela Media-leser het laat weet dat sy onlangs R90 vir ʼn 2 ℓ-bottel sonneblomolie opgedok het. Sy het vroeër in die omgewing van R40 daarvoor betaal. Ander Suid-Afrikaners het op Twitter geknor oor die prys van sonneblomolie wat glo van R27 tot R85,99 gespring het. Sowetan LIVE het vroeër die week berig dat straatverkopers sukkel om by die pryse van olie by te hou om vetkoeke en slap tjips te braai.

Maroela Media het vroeër berig oor die inflasiepryse van kos en volgens StatsSA het die prys van kookolie sedert Mei verlede jaar met ʼn beduidende 30,3% toegeneem en met 8,5% van April tot verlede maand. Terwyl die gemiddelde prys van ʼn bottel kookolie in jou winkeltrollie ʼn jaar gelede naastenby R20,99 was, het dit verlede maand amper R30 gekos.

Maar wat is die rede vir die reuseprysstygings van kookolie? Volgens Morné Botes, kommersiële direkteur van Soill, wat die B-Well‑ en African Gold‑kookolie-handelsmerke besit, het die wêreld se aanvraag na alle sagte olies jaar op jaar toegeneem, terwyl swak oestoestande in talle lande veroorsaak het dat die verskaffing in dieselfde tyd verminder het.

Die wêreldwye tekort sluit sonneblom, palm, soja en kanola in.

“Daar was ʼn wesenlike prysstyging in olie in die laaste 12 maande, en plaaslike verbruikers het die volle impak hiervan in Meimaand op winkelrakke by ons gesien.

“Markte het op die internasionale tekorte gereageer deur pryse opwaarts aan te pas om ʼn balans tussen vraag en aanbod te vind,” sê Botes.

Suid-Afrika se pryse kan nie in isolasie van die res van die wêreld beskou word nie omdat ons ʼn netto invoerder van eetbare olies is.

“Ons produseer 850 000 metriese ton (MT) olie per jaar en voer dan nog ʼn addisionele 950 000 MT olie in vir plaaslike verbruik. Suid-Afrikaanse pryse is dus direk gekoppel aan wêreldpryse.”

Botes het bygevoeg dat alle eetbare olies deur die tekort en prysstyging geraak is.

“Die grootste impak was wel op sonneblomolie wat tot en met 71% verhoog het op sy hoogste punt, terwyl kanola-olie met 56% gestyg het. Dié verhoging het veroorsaak dat verbruikers gesien het dat kanola-olie vir ʼn tydperk teen ʼn goedkoper prys as sonneblomolie bemark is, terwyl kanola-olie gewoonlik teen ʼn R5 tot R10 premie teen sonneblom bemark is.”

Botes het bygevoeg dat verbruikers met die prysstyging van sonneblomolie kleiner hoeveelhede aangekoop het, en na kleinhandelaars se private handelsmerk geskuif het om alternatiewe produkte gekoop het.

Tog meen hy daar is darem ʼn mate van verligting vir verbruikers in die vooruitsig, wat steeds hulle slap tjips, vetkoeke en pampoenkoekies wil braai.

“Die internasionale markprys het in die laaste week met R4 000 per MT op sonneblomolie geval. Dit behoort op winkelrakke se pryse teen Augustus sigbaar te wees en ʼn verligting van sowat 15% op prysvlakke tans te gee, alhoewel dit steeds baie hoër is as die prys vir kookolie ʼn jaar terug.

“Europese kanola word in September en Oktober geoes, wat ook die prysvlak laat daal, terwyl die plaaslike sonneblom-oeste in Maart en April weer ʼn afwaartse prysaanpassing tot gevolg behoort te hê, mits daar nie weer enige misoeste weens swak weertoestande is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

koos ·

Bla-bla-bla, altyd ‘n ou verskoninkie hoekom die prys so hoog is en die boer so min kry. Weereeens bla-bla-bla as hulle oorspronklike redes vir die hoë prys verval het maar die prys bly nog steeds hoog.

Cheryl ·

Stem Koos. Jy hoef net na die boere in die caledon distrik te kyk. Niemand trek daar swaar nie.

Tobie ·

Toe nou nie.
Ek werk by n olie fabriek. Ons produseer so 200 000 liter ‘n dag, wat ons n redelike mededinger in die mark is.

In die begin van die jaar het ons dig by R10 000 ‘n ton betaal omdat daar nie saad in die mark was nie. Als moes invoer, en voor jy nou weer kla, sonneblomme word in die winter geoes.

“Ons boere” se prys word volgens die internasionale prys bepaal. So hulle kry ‘n baie goeie prys vir hulle saad.

Ons kon dit nou eers begin bekostig om volskaal te produseer, eerste keer in maande. Die prys vir saad hang rondom R 7000 ‘n ton.

En voor jy nou nog verder kla, ons benodig omtrent 2,5 ton saad om een ton ru-olie te maak. Dan is daar nog vêrdere verliese in die verfynings proses.

So ja, dis altyd lekker om te dink dat die wêreld teen ons arme boere is, maar dié keer is dit ongelukkig nie so nie.

Bart-Man ·

Interessant. As goedere wêreld wyd duurder word word ons sin ook duurder. As goedere wêreld wyd goedkoper word bly ons pryse dieselfde. Snaaks nè

Nie Verbaas ·

Ja en so lieg almal maar om mense wat min tot niks het nie net nog verder te verarm. Hello Zimbabwe.

Pierre ·

Maar was SA nie voor 1994 ‘n land wat sonneblom saad en olie uitgevoer het nie….?

Tobie ·

Dalk, maar só het die vraag na olie ook drasties vermeerder. Boere plant nogsteeds sonneblom en die oeste is goed. Maar as daar nie genoeg sonneblom is nie, wat moet mens dan doen?

Voor jy nou begin sê dis omdat die boere nie meer veilig is nie, ons voer meer as ons jaarlikse produksie in. Dus moet ons dubbeld soveel sonneblom plase in die land wees… Dan gaan die omgewings mense weer kla…

So, enige voorstelle?

Stephen ·

Ek het altyd die Amerikaanse TV program “Preppers” kritiseer en hierdie mense as “conspiracy theorists” uitgemaak.
Dit maak egter nou vir my baie meer sin. Ons moet “off the grid” lewe en daar is n magdom voordele:
Betaal geen belasting aan hierdie uiters korrupte Regering
Produseer jou eie voedsel wat gesondheids voordele inhou
My siening is dalk ekstreem maar ons lewe tans in uiters abnormale toestande.

Danie ·

Ek kan steeds nie verstaan hoekom winsgrense hemelhoog opgestoot moet word om n sogenaamde balans te skep tussen vraag en aanbod nie, veral nie tov verbruikersgoedere soos kos nie.
Indien dit is om verkope te keer sodat voorraad op die rak langer hou sit hulle die pot mis.
Sekere kossoorte moet gekoop word en indien voorraad min is sal dit op raak al kos dit n plaas se prys het zimbabwe ons geleer.
So die man wat die wins maak smile al die pad no matter what.

SjN ·

Eskom gebruik dit om hul generators te laat loop, nou is daar n tekort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.