Verbruikers gaan steier onder brandstofprys

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Reusebrandstofverhoging tree Dinsdagaand in werking en Suid-Afrikaners gaan dit in alles – van kospryse tot die koste van ʼn taxirit – voel.

Die prys van diesel styg om middernag met R1,48 per liter, terwyl die prys van petrol in die binneland met R1,21 per liter toeneem en die prys van 95-oktaan-brandstof op R19,54 te staan bring.

In Polokwane raak die petrolprys net-net aan die R20/liter-kerf.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die prysstyging gaan “rampspoedig” vir brandstofgebruikers en verbruikers wees. Die AA gaan intussen voort om antwoorde te eis oor hoe heffings in die brandstofprys toegeken en bestuur word.

Die organisasie sê die regering moet ook duidelikheid gee oor die bykomende balansfondsheffing (die sogenaamde slate levy) wat op brandstof gehef word.

“Die brandstofprys het ʼn regstreekse uitwerking op ʼn reeds swak ekonomie terwyl die voortgaan om inflasie op noodsaaklike verbruikersgoedere op te jaag. Dit raak elke Suid-Afrikaner.”

Die AA het opnuut benadruk dat elke element wat eindelik die brandstofprys bepaal, behoorlik ondersoek moet word sodat besluit kan word of dit wel noodsaaklik is.

“Die brandstofprys is nou op ʼn rekordhoogte en so ʼn hersiening moes lankal reeds gedoen gewees het,” sê die AA.

Die prys van 95-oktaan-petrol in Gauteng is nou 39,47% meer as 11 maande gelede, terwyl die prys aan die kus in dieselfde tyd met 40% gestyg het. Diesel, ʼn groot insetkoste in die vervaardiging-, landbou-, vrag- en vervoerbedryf, is nou 30% duurder as aan die begin van die jaar, sê die AA.

Die prys van paraffien het ook skerp gestyg en is nou 35% duurder as in Januarie vanjaar.

“Vir talle verbruikers, veral die armstes van die armes, is die verhoging ʼn slag vir hul reeds benarde finansiële situasie.”

Die vakbond Uasa stem saam dat die uitkringeffek van die prysstygings Suid-Afrikaners swaar gaan tref. “Ons verwag dat voedselpryse en vervoerkoste dienooreenkomstig gaan toeneem en meer finansiële lyding vir ons lede gaan veroorsaak.”

Die prysstyging word onder meer toegeskryf aan ʼn swak rand en stygings in die internasionale olieprys.

Die AA het die regering ook gekap omdat hy tot op die nippertjie gewag het om die styging aan te kondig. Die verklaring wat die departement van minerale hulpbronne en energiesake Maandag oor die nuwe brandstofprys uitgestuur het, is 28 Oktober (Donderdag) gedateer.

Dit is egter eers gister – en net 15 minute voordat stemmery in die plaaslike verkiesing om 21:00 gesluit het – uitgestuur.

Die organisasie sê die tydsberekening maak dit moeilik om tot enige ander gevolgtrekking te kom as dat die “slegte nuus doelbewus onderdruk is om die huidige regering te beskerm”.

“Ons gaan aan die parlement skryf om ʼn verduideliking oor die vertraging te eis.”

Die AA sê die vooruitsig vir die toekoms lyk boonop donker. ʼn Kleiner aanbod, voortgesette probleme met die koste van gas en verskaffing en kommer oor raffineringskoste, beteken verbruikers gaan hulle oor die volgende drie tot ses maande steeds moet staal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Di ·

Tipies! wag dat die verkiesing eers verby is voordat hulle dit aankondig – KORRUPTE spul. Weet nie hoe dink hulle moet mense oorleef met al die heffings, tax ens nie. Die meerderheid in die land dra nie ‘n sent by tot iets nie, ons hantjievol belastings betalers word net al hoe meer gewurg om vir die meerderheid te sorg.

Pieter ·

Maar daar is geld vir drank, sigarette, vakansies, ontwerpersklere vir boet en sus, tuin en huiswerkers, ens, ens

Snowball ·

@Pieter – Watookal jy met jou geld doen, is jou saak, jy is nie veronderstel om ‘n slaaf vir die staat te wees nie. Baie mense het in SA verarm agv die ANC en hulle verwoestende ekonomiese beleid. Baie belastingbetalers sukkel om kop bo water te hou, want korrupsie eis meer as net sy pond vleis. Wat stel jy voor, ons betaal ons volle inkomste oor aan die staat en hulle gee sommer vir almal dieselfde toelaag elke maand, dan het niemand se boet of sus geld vir ontwerpersklere nie. Of beter nog, waarom hoegenaamd werk vir voorspoed as jy op jou blaker kan sit en ‘n toelaag kan kry?

Pieter ·

Sneeubal, jy mis my punt heeltemal. Meeste kla met witbrood onder die arm.

James ·

Seer – maar onafwendbaar. Net nog ‘n simptoom van die onafwendbare val van Suid Afrika. Kyk, braaiers, – dis vir my ook lekker om te dink oor hoe dinge beter kan word. “WEES POSITIEF” Gelukkig glimlag ek net meewarig saam met julle – ek stry nie met idiote nie – en dan gaan ek huis toe. Ek wil vir julle se dat daar groot probleme kom en dat julle moet voorberei vir groot onrus – maar ek gaan nie. Ek gaan huis toe. Julle sal later leer – en moenie dan by my huis aanklop nie. Gaan hou partytjie!

Stefaan ·

Neem kennis en moet nie onkant betrap word nie. Die skrif is aan die muur.

Inge ·

Ek sal maar vir myself ‘ n perd en ‘n waentjie moet aanskaf. Dit is belaglik verby. Ek weet nie hoe hulle wil hê ons moet oorleef nie.

Mariana ·

Hulle wil nie hê ons moet oorleef nie, kyk hoe lyk die land.

Samuel ·

Wat het mens anders van die ANC verwag? Hulle is ‘n spul skurke van bo na onder.

Dirk Mostert ·

S.A. is net ‘n satrap van die NWO. Elders gaan dit dieselfde.

Swartskaap ·

N jaar gelede was my motor se brandstof koste per km R1.00. Dit is nou naby aan R1.50.

Werner ·

Hulle moet kyk wat in Zim gebeur het toe hulle die petrol prys so hoog gemaak het.

Adriaan ·

Wat laat jou dink “hulle” het nie gekyk wat daar gebeur het en wil dieselfde hier laat gebeur nie?

Pieter ·

N kommunis bly n gemors maar die siek anc kommuniste sal nie weg doen met hulle heffings nie ons die belsting betaler moet maar net betaal. Hoekom brand die taxis nie nou als af nie. Maklik want die belasting betalers betaal vir hulle ook.

Nettie ·

Hulle kry mos n subsidie kry mos geld van die staat. Maar die mense wat taxi ry moet meer betaal om taxi te ry.

Karlahari ·

En om die tekort verder aan te jaag hardloop Eksdom se nood gas turbine opwekkers op duisende liters diesel per dag.
So daar gaan krag se pryse verder opgejaag word ook.
Is die miljoene wat op Medupi verDUISTER is al verhaal van almal wat geskep het?
Hier kom groot groot loadshedding…..

James ·

Gelukkig is Biden president. (o gaats – my petrol is duurder) Ja, want Biden se beleid het die produksie van olie afgebring. Gelukkig Tweet hy nie lelike goed nie. Lekker ry. Of koop ‘n lekker groen energie Tesla. Sterkte. Jou ritte is duurder -maar minstens kan jy nou vry asemhaal.

Dirk Mostert ·

Die krag waarmee Teslas gelaai word is presies dieselfde krag wat vir alle doeleindes opgewek word.

Kenny ·

As jy nie vandag met ‘n ink kol op jou duim sit nie, moet nie nou wil staan en kla nie

Debby ·

Wou bitter graag gaan stem het, het nie petrol gehad om die 44km te ry in dorp toe en terug nie

Werner ·

So jy het net gaan stem om nou te kan kla.Kom ons kyk wat doen jou party nou om die prys weer af te kry.Kom ek raai net mooi niksDit gaan jou net soveel help as jou geklaery..

AW ·

Dié wat met ń Geestelike Oog na SA kyk, sal weet wat tans aandie te gebeur is, en waarom!

H.A. ·

Maar die anc bo alles…Sal die landsvlag moet vervang met die anc vlag,

Nico ·

Die SA verbruiker betaal seker vir die verliese wat die ANC regering ly, die buurstate betaal minumin vir brandstof. Die ANC regering moet staande bly daarom al die sogenaamde belastings, al die belastings is R10.00 van die totale brandstof prys, o’ ja, die regering met al sy lyfwagte en voertuie betaal nie ‘n sent vir brandstof nie.

Dirk Mostert ·

Eskalerende oliepryse is direk gekoppel aan ‘n vergrote aanvraag in die noordelike halfrond, waar hernubare kragopwekkers nie aan die verwagtings voldoen nie. Die Cop-beraad bly egter vasberade om fossielbrandstowwe uit te faseer om “die aarde te red” van mitiese aardverwarming weens kweekhuisgasse.

Charl ·

Natuurlik was dit doelbewus…en opsetlik ! Die anc bly ‘n kat en muis speletjie speel met ons en almal verdra dit maar net desondanks al die kritiek en wantroue jeens hulle ??

chantelle ·

15 % belasting op R9.37 is beslis nie R3.93 nie… VERDUIDELIK ASB HOE DIE BEREKEN IS???
pak die broek sakke lekker duk! kan verstaan die vulstasie eienaar moet n wins maak.

maak die staat nie al klaar genoeg geld uit ons uit nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.