Verbruikers moet hul eie krag opwek en ‘probruikers’ word

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Suid-Afrika worstel tans met die probleem dat die nasionale elektrisiteitsverskaffer, Eskom, nie genoeg krag kan opwek om die land van ’n betroubare voorraad elektrisiteit te kan voorsien nie. Dit word hoofsaaklik aan jare lange onvoldoende onderhoudswerk by ons steenkoolkragstasies, ’n krisis in die verskaf van genoegsame steenkool van die regte gehalte aan kragstasies en groot ontwerpersblapse van die twee nuwe reusekragstasies, Medupi en Kusile, toegeskryf. Een oplossing vir hierdie benarde situasie is om Suid-Afrikaners toe te laat, en inderdaad aan te moedig, om hul eie elektrisiteit op te wek.

Dit is die siening van die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Wikus van Niekerk, na aanleiding van die toepassing van beurtkrag waaronder Suid-Afrikaners die afgelope paar maande gebuk gegaan het.

Van Niekerk, die voormalige direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, meen verbruikers is oormatig afhanklik van die verkryging van elektrisiteit vanaf een bron – Eskom – wat deur middel van die nasionale elektrisiteitsnetwerk deur Eskom of plaaslike munisipaliteite versprei word, terwyl ander elektrisiteitsbronne selfs teen ’n laer koste as wat verbruikers tans betaal, geredelik beskikbaar is.

“Die tegnologie en toerusting waarmee huishoudings hul eie krag kan opwek, het tot so ’n mate ontwikkel dat ware alternatiewe beskikbaar is. Verbruikers moenie net aangemoedig word om in hierdie tipe tegnologie te belê nie; hulle moet ten minste finansieel daarin ondersteun word deur gepaste tariefstrukture.”

Al laat baie munisipaliteite verbruikers nou toe om sonfotovoltaïese eenhede op hul persele te installeer en om selfs oormaatkrag terug te voer na die elektrisiteitsnetwerk, het die meeste munisipaliteite hierdie sogenaamde “terugvoertariewe” só gestruktureer dat dit inderdaad verbruikers daarvoor penaliseer. Dit is die vernaamste rede waarom baie verbruikers sulke stelsels sonder die owerhede se medewete installeer. Dit skep weer ’n gevaarrisiko vir elektrisiëns wat aan hierdie lyne moet werk.

In Europa, die VSA en talle ander lande het die owerhede presies die teenoorgestelde gedoen deur die installering van sulke sonkragstelsels te subsidieer deur middel van ’n aantreklike terugvoertarief. Die kapitale insetkoste van hierdie stelsels het die afgelope paar jaar soveel gedaal dat huiseienaars elektrisiteit nou vir minder kan opwek as wat hulle hul plaaslike munisipaliteit daarvoor sou betaal het. Hulle sal ook bereid wees om hul oormaat elektrisiteit aan die plaaslike munisipaliteit teen dieselfde, of selfs ’n laer tarief, as wat die munisipaliteit Eskom daarvoor betaal, te verkoop.

Dit is dus moeilik om te verstaan waarom die Stad Kaapstad, byvoorbeeld, bereid is om krag van onafhanklike kragverskaffers aan te koop, maar nie van sy eie inwoners nie.

Dit was ’n goeie begin om in sonverhittingstelsels vir water en ander kragbesparende toebehore soos LED-ligte te belê om die hoeveelheid krag wat in residensiële gebiede gebruik word, te verminder, maar verbruikers moet nou bemagtig word om sonfotovoltaïese panele op hul huise se dakke te installeer om nie net elektrisiteit op te wek nie, maar ook om “probruikers” te word.

“Dit is so dat sonfotovoltaïese panele, batterye en kragomsetters nie goedkoop is nie, maar dit is ’n belegging wat nie buite die bereik van ’n groot deel van die residensiële mark is nie,” sê Van Niekerk. “Dit sal nie net die druk op die elektrisiteitsnetwerk verlig nie, maar dit is natuurlik ook ’n skoner vorm van elektrisiteit.” Deur huiseienaars toe te laat om hul eie sonstelsels te installeer, sal hulle die huidige aanvraag wat Eskom nie kan lewer nie, verminder en later sal dit beskikbare kapasiteit vergroot wat weer aan ander verbruikers beskikbaar gestel kan word om sodoende ekonomiese groei te stimuleer.

Vir huishoudings wat nie die volle stelsel om van die elektrisiteitsnetwerk af te gaan, kan bekostig nie, is daar steeds ander moontlikhede.

“As hulle nie ’n batterystelsel kan bekostig vir die opgaar van die elektrisiteit nie, kan hulle die elektrisiteitsnetwerk as soort ‘battery’ gebruik deur bedags wanneer die son skyn en hulle nie baie krag gebruik nie, oormaatkrag aan die netwerk te verskaf en dan saans elektrisiteit van die netwerk te gebruik.”

Van Niekerk sê dit sal natuurlik vereis dat die elektrisiteitsnetwerk opgaarkapasiteit moet hê, wat dit inderdaad het met die drie groot pompopgaarskemas wat Eskom tans gebruik, sowel as die oopsiklus-gasturbines wat hulle gebruik wanneer dit nodig is.

Hy meen daar is ʼn geleentheid wat wag om aangegryp te word om die daksonkragmark te stimuleer en die druk op Eskom se feilbare opwekkers te verminder, maar dit benodig visie en samewerking tussen alle regeringsektore asook die privaat en openbare sektore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johan ·

Die Regering hou daarvan om alles in die land te beheer, veral die ekonomie. Dit gaan alles oor geld. Daarom is hulle langtand om afstand te doen van Escom se monopolie. Die land se belang kom tweede…

Pieter ·

Jy stel dit so waar Johan. Sien die totaal “over the top” regulasies van munisipaliteite soos Kaapstad i.v.m sonkrag. Waarom kan daar nie net een stel nasionale regulasies vir sonkrag wees nie? Al voldoen jou stelsel aan internasional standaarde soos in VSA en Europa is dit nog glad nie goed genoeg vir plaaslike regulasies nie. Jou inverter moet nog op ‘n lokale goegekeurde lys kom. Ten duurste natuurlik vir die invoerders en verspreiders. Wonder maar net of geld ook maar die dryfveer is. Dan is daar ook nog die minimum bedrag betaalbaar aan die munisipaliteit as jy off grid gaan. Dit is al amper net so veel as die krag wat ek op my eie kan maak. Jy is reg dat dit ‘n geld oorlog en magspel is. Die eindverbruiker se geldsake en die omgewing tel net nie punte nie. Dit is baie ydel as mense ons oproep om ons eie krag op te wek sonder om aandag te aan die dieper liggende probleme. Ek is sat vir SA en sy al ewige inmenging en magspeletjies. My sak word al hoe leër en op my ouderdom, wit vel en manlik het ek ook nie meer ‘n kans op ‘n werk nie.

Sonkrag ·

JA DANKIE ONS GAAN ESKOM SINK, ons gaan almal sonpanele kry en julle in julle glory instuur …

jakes ·

Ja, ek stem saam, hoe groter die problem, hoe groter die uitkoms. Al wat ons nou moet doen, is om saam te staan. Kry ‘n groep mense in jou straat wat kan help met bydraes om son panele op te sit, so een straat van die network af, daai straat help weer die volgende straat en binne een jaar is die hele dorp van die network af. Moenie dink aan die probleem nie, dink aan oplossings.

Vraagteken ·

Hoe gaan ons dan 7de laan kyk as daar nie krag in die aand is nie??? Waar gaan die elektrisiteit vandaan kom om groot smelters te druif? Kom asb met ‘n beter oplossing navore… Hier is een: Privatiseer Eskom en bring kompetisie in die mark in. Dan kan al daardie dooie vleis (nie almal nie) by Eskom afgedank word en sodoende ons ekonomie in orde kry.

Maklik ·

Maklik Prof vir jou om te sê wek jou eie krag op, maar weet jy hoe baie arm mense in ons land is. My man het nie werk nie en sukkel in sy 50’s om te kry. Ons leef van dag tot dag. Almal het nie d geld nie

Pieter ·

So waar. Ek is in dieselfde posisie. Met meer as 35 jaar evaring in my bedryf is ek te oud, te wit en manlik om ‘n werk te kry. Ek sit en bid my 50’s om sodat ek my pensioen kan begin gebruik. Dis ‘n bitter pil om te sluk na soveel jare diens in die bedryf. Ek is gatvol vir SA en sy streke.

Dienkie ·

@Maklik, ek stem saam met jou,nie almal het derduisende rand om hulle eie krag op te wek nie. Wat van woonstelbewoners.?

Jacoba ·

Sonkrag panele, inverter, batterye die bedrading (labour) alles kos geld en kan tot 200 000 en meer beloop. Banke wil ook nie altyd lenings toestaan as hy nie n baie groot salaris verdien nie. Banke se houding: Te hel met middelklas en arm mense on soek net ryk kliente.

Doen ·

Jacoba,
Ek het ordentlik huiswerk gedoen en vir my n 5 KVA stelsel mat son geyser ingesit teen R45 000.00. Die “SPECIALS” wat adverteer vir dieslefde stelsel is R136 000.00. M.a.w ons eie mense se besighede gebruik die geleentheid om masiewe winste te maak. Net die batterye se anvanklike kwotasie was R53 000.00 waar ek toe presies dieselfde batterye gekry het vir R18 000.00.

Vraagteken ·

Hier is ‘n paar stellings wat nie akkuraat is nie:

1) As SUN aan die Sosal solar challenge deelgeneem het, dan sou hulle geweet het dat PV baie meer onvoorspelbaar is as ons huidige Eskom toevoer. Gaan vra maar vir Pukke, UJ, en kie hoe moeilik dit is om genoegsame, en betroubare energie van die son te kry. Verder, gaan pas die “Markov chain” teorie toe aan solar en dan gesels ons weer.

2) Ek as ‘n produseerder wat in die netwerk terugstoot sal nie juis werk om kragtoevoer te verbeter nie. As ‘n mens na die tipiese las profiel van SA kyk, dan sal jy vinnig agterkom dat maksimum las in die nag (ongeveer tussen 17:00 en 19:30) vereis word. Ons is al klaar op beina 100% wanneer dit kom by Eskom se kapasiteit. Hoe gaan Eskom die krag stoor (veral as hulle al klaar byna 100% van hulle opgaarkapisiteit vereis)? Verder, die duitsers het bevind dat jy ongeveer 8 MW se ‘instand backup energy sypply’ moet beskik vir elke 10 MW se solar. So dit beteken dat solar net ongeveer (mits dit reg toegepas word) 10 – 20 % van ons las in die middel van die dag sal verminder. Wat van die aand waar ons dit nodig het???

Terloops, volgens die IEA is Solar nie so’ skoon soos wat almal dink nie. Mense moet meer krities na probleme te kyk!

Ben ·

Gebaseer wat in die IT bedryf gebeur het met Hoofraam rekenaars is ESKOM se besigheid model nie meer lewensvatbaar nie. Groot Kragstasies wat 20 jaar neem om te bou en dan nog nie ordentlik werk nie (Medupie ens) se tyd is verby. Wat self opwek betref is die panele goed koper maar die batterye is onbekombaar duur. Ons as verbruiker sal ook ander tegnologie moet gebruik vir Koskook, warm water en verkoeling. Op Nasionale skaal sou ek meer damme gebou het met Hidro elektrisiteit. Dit neem ook lank maar los 2 probleme op. 2 Damme in serie. Eerste een is groot en wek krag op. 2 de dam se krag wat opgewek word gebruik om die water weer terug in die eerste dam te pomp. Verkieslik sou wenslik wees op die eerste dam binne in ‘n berg te huis sodat min verdamping plaasvind. Hierdie stelsels is al klaar geïmplementeer op ‘n eiland en werk goed.

Vraagteken ·

Ongelukkig werk dit nie so nie Ben. Jy sien, om water terug te pomp, kort jy presies dieselfde krag as wat opgewek word tydens wanneer die water afgaan. The laws of physics state that energy cannot be created nor distroyed, but can only be transferred from one phase to another. Jou oplossing gaan energy create’, en nie verander nie. Die enigste manier om daardie water weer in die groot dam te kry is deur radiasie (waar water in wolke vorm en dit dan weer reën as gevolg van hitte). Maar ongelukkig het ons nie genoegsame reën nie.

Jy is wel op die regte pad, ‘pumped storage’ is ‘n alternatief om energie te genereer op ‘peak demand’ tydperke. Maar ons damme het nie genoeg ‘head’ om ‘n impak op ons stelsels te hê nie. Ja, jy kan baie water gebruik in jou hidrostelsel, maar dan gaan die damme vinnig leëg raak.

RG ·

Kom ons begin by die begin. Waarom nie weer ‘n Afrikaner privaat aandele fonds begin soos na die Boere oorlog waaruit ons jong afrikaner entrepeneurs kan finansier om besighede te begin, soos bv sonpaneel verskaffing ( want wat my die meeste pla is dat ek Motsepe, Ramaposa en seun nog verder gaan verryk). Dan skep mens mos vir @maklik se man ‘n werk ook. Dit moet egter die keer regverdig gedoen word sodat nie slegs ‘n paar binnekring broederbonders en een of twee Ruperts verryk word nie. Alle Afrikaners moet daarin kan bele en alle Afrikaner entrepeneurs moet ‘n regverdige kans gegun word.

Nog 'n werklose, arm blanke ·

Terwyl ek deur die kommentare lees, sit en wonder ek dieselfde. Hoekom kan Afrikaners nie saam staan en besighede stig wat elektrisiteit opwek en terselfdertyd slegs werk aan arm blankes verskaf nie? Daar is menigte organisasies wat uitsluitlik vir hul kultuur sorg. Hoekom moet die arm blanke ALTYD vir ALMAL sorg??

Ampie ·

Ons kan nie want in Saoof Efricah mag daar net Black Business Councils, Black Management Forums, ens wees. Als wat selfs in die tweede of derde graad enigiets te doen het met ‘n Afrikaner is onwettig. Lyk my julle twee het al weer vergeet dat rassisme slegs een kant toe gaan. Sies!

Herman P ·

Hulle sal ander maniere kry om jou te melk. As jy af die grid gaan, sal son paneel belasting jou uitgawes vervang of hulle sal net bloot jou erfbelasting verdubbel. Dream on

Helen ·

Stem saam met jou Herman. Dit sal gaan soos met al die voorstelle van die publiek om die e-tol te stop maar nog steeds geld vir die paaie te kry en die nagevolg van daai voorstelle was dat ons vandag met astronomiese heffings op die brandstofprys sit en raai wat, die e-tol is nog steeds daar en hul wil nog steeds geld daarmee maak. Hoe meer voorstelle aan die regering gemaak word, hoe meer maniere sien hulle in daai voorstelle om ons verder finansieel te benadeel en droog te tap. Beste is om hul van geen meer voorstelle te voorsien nie want dit kom byt ons net elke keer aan die agterend. Sodra jy al die geld uitgelê het om jou eie krag op te wek, dan kom hul met ‘n plan om jou te belas vir jou moeite.

Pieter ·

Goed gesê Herman P. Dit gaan alles oor beheer en geld. Die politici in beheer wil hulle pond vleis hê. Hulle werk nie tot voordeel van alle bugers nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.