Verbruikers se inkomste ‘krimp’ afgelope jare met 20%

Omdat inkomstes nie werklik groei nie, verhoog verbruikers hul inkomste met ongesekureerde skuld. (Foto: Maroela Media)

Ten spyte van betalingsvakansies en ʼn laer rentekoers, wys die organisasie DebtBusters se jongste skuldindeks dat Suid-Afrikaners se werklike inkomste oor die afgelope vier jaar met tot 20% gekrimp het.

Hy waarsku boonop dat ʼn groot skuldlas verbruikers wat staatmaak op ongesekureerde skuld, in die gesig gaan staar wanneer hulle weer met terugbetalings moet begin.

DebtBusters se skuldindeks vir verlede jaar se vierde kwartaal is Donderdag bekend gemaak. Volgens hierdie indeks is ongesekureerde skuld gemiddeld 32% hoër as toe DebtBusters in 2016 data daaroor begin insamel het.

Die algehele skuld-tot-inkomste-verhouding is boonop die hoogste in jare.

Benay Sager, hoof van DebtBusters, sê die uitwerking van die afsonderingstyd wat weens Covid-19 in werking gestel is, beteken dat talle huishoudings wat vantevore net-net kop bo water kon hou, nou sukkel om hul rekeninge te betaal.

Luidens die indeks het verbruikers met huis- of voertuiglenings verlede jaar by agtereenvolgende dalings in die rentekoers gebaat. Vir huislenings het die gemiddelde rentekoers van 11,1% tot 8,3% gedaal en vir voertuigfinansiering was die daling van 13,7% tot 12% per jaar.

Ongesekureerde skuld – skuld wat nie aan ʼn bate gekoppel kan word nie – het egter nie uit die dalings voordeel getrek nie. Die rentekoers vir dié soort skuld is in hierdie stadium nagenoeg 21%.

Ongesekureerde skuld sluit onder meer kredietkaarte, oortrokke fasiliteite, persoonlike lenings en winkelkaarte in.

DebtBusters sê al hoe meer verbruikers met hierdie soort skuld vra vir skuldberading, ʼn aanduiding dat die betalingsvakansies wat verlede jaar toegestaan is, nou iets van die verlede is en die tydelike verligting wat dit toe gebied het, nou verander het in ’n skuldlas.

Omdat inkomstes nie werklik groei nie, verhoog verbruikers hul inkomste met ongesekureerde skuld. Verbruikers wat in die vierde kwartaal aansoek gedoen het vir skuldberading, het ʼn negatiewe groei in inkomste gehad in vergelyking met dieselfde tydperk in 2016. Nominale inkomstes was 2% laer as 2016 se vlakke. As saamgestelde inflasiegroei van 18% vir dieselfde tydperk in berekening gebring word, het dié verbruikers se inkomste oor die vier jaar lange tydperk met 20% gekrimp.

Diegene wat R20 000 per maand verdien, moet 60% van hul maandelikse netto inkomste bestee om skuld terug te betaal en hul skuld-tot-inkomste-verhouding is op 130% die hoogste in jare.

Die skuldindeks wys ook dat ongesekureerde skuld 32% hoër is as in 2016 en diegene wat R20 000 of meer per maand verdien, se ongesekureerde skuldvlakke is meer as 45% hoër.

“Dit is ʼn regstreekse gevolg van die wegkalwing van netto inkomste – die salaris wat jy huis toe neem – en verbruikers moet hierdie vermindering met ongesekureerde skuld aanvul.”

Die organisasie sê die rentekoers op ongesekureerde skuld kan met tot 90% verminder word wanneer ʼn verbruiker skuldberading ondergaan.

Luidens die skuldindeks het die grootte van lenings met 48% toegeneem, maar diegene wat dit ontvang, is terselfdertyd 39% minder. Dit dui daarop dat meer ongesekureerde lenings aan ʼn kleiner poel aansoekers toegestaan word.

Dieselfde geld egter nie vir gesekureerde lenings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Die armes word net armer en die rykes, net nog ryker. En alles te danke aan die ANC wat daagliks die gat net dieper en dieper grou. SA se uurglas loop uit en ons handjievol belastingbetalers, kan net soveel gate toemaak.

Piet ·

Die rykes kan ook hulle mense meer betaal? Dis nie alles op ANC nie, alhoewel hulle absoluut niks doen om te help nie

Stefan ·

En die financiel instellings misbruik hierdie geld tekort.
Ek kry 2 tot 3 sms per week om my te probeer verlei om teen ‘aanloklike’ voorwaardes skuld aan te gaan, mense wat in die finansiele knyp is kan baie maklik daarvoor val, en hoe gaan hulle dit terug betaal as hulle reeds nie uitkom met hul geld?

Fritz ·

Baie maklike oplossing. Stuur vir hulle n obsene epos. Maar ek bedoel REGTIG obseen.

Johan ·

My mense kyk met groot verwagting na ons vir salarisverhoging-hul werk immers harder as ooit- maar ons winsgrens het so verswak ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Ek haat dit om elke maand die VRAG belasting oor te betaal terwyl ek weet die wat daarvoor gewerk het dit baie nodig het en sal dit beter aanwend..moeg vir die ANC-EFF onderdrukkers- die RSA het gevaal.

pieter ·

Met die anc regering sal dit net slegter gaan , hulle sorg net vir hulself en boeties.
As die blankes nie gaan ingryp en self doen , is dàar nie n toekoms nie.
Wat het die regering reggekry desert 94?????,
Bokkerol.

Casper ·

Stefan,dit wat jy sê kan nie meer waar wees nie.Waar kry hierdie instellings jou nommer om vir jou ‘n kredietkaart of lenings aan te bied en jou dieper in die skuld te dompel.My bank het sommer vir my ‘n kredietkaart uitgereik sonder dat ek daarvoor gevra het of die kaart ontvang het.en toe word diensfooie grief.

pokkel ·

Die lewensstandaard van iemand sonder kwalifikasies wat basiese werk doen oorsee lyk vir my heelwat hoër as die standaard wat ‘n professionele persoon met ‘n kwalifikasie in ons land kan bekostig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.