Verbruikersake: Groter mededinging vir skoolklereverskaffers

skool-skoene

Foto: Pinterest.com

Die Mededingingskommissie het oor die afgelope jaar in ʼn steekproef by byna 1 600 skole en meer as 280 beheerliggame gevind dat meer as 30% van die skole betrokke is in onmededingende optrede omdat hulle kontrakte met skoolklereverskaffers het, sonder dat die bodproses wat in 2015 deur die departement van onderwys voorgeskryf is, gevolg is. Ina Opperman vertel meer.

Die Mededinginskommissie ondersoek die koste van skoolklere nadat dit klagtes ontvang het van voornemende skoolklereverskaffers wat meen hulle word uitgesluit uit die mark vir skoolklere weens eksklusiewe ooreenkomste tussen skole en verskaffers. Ouers het ook by die kommissie gekla oor die buitensporige pryse vir skoolklere wat hierdie ooreenkomste veroorsaak, aangesien hulle nie kan kies waar hulle skoolklere wil koop nie.

Volgens die kommissie word die finale verslag binne die volgende paar weke bekend gestel. Dit sal gevolg word deur belangrike aankondigings en aanbevelings, aangesien die esklusiewe kontrakte wat verbruikers se sake so ruk, onwettig is.

Die bepalings van die Wet op Mededinging verbied praktyke wat mededinging verhoed en lei tot hoë pryse en minder keuse en die misbruik van dominansie deur dominante maatskappye wanneer hulle buitensporige pryse vra en kleiner mededingers uitsluit.

Die Kommissie het al in 2015 beveel skole moet die potensiële onmededingende uitwerking van eksklusiewe ooreenkomste vir skoolklere verminder, die mark toeganklik maak vir ander verskaffers en die termyn van eksklusiewe kontrakte beperk, maar nou het dit geblyk dat 30% van skole nie van die riglyne weet nie.

Departement van onderwys

Die departement van onderwys het skole ook gevra om te verseker dat skoolklere meer generies en beskikbaar by verskeie verskaffers is om eksklusiwiteit te beperk. Skole moet mededingendheid bevorder en handhaaf deur tenders vir skoolklere, sodat alle verskaffers die geleentheid kry om mee te ding en meer as een verskaffer moet, indien moontlik, aangewys word. Samespanning en prysvasstelling moet ook vermy word wanneer kontrakte toegeken word.

Nasionale riglyne vir skoolklere is reeds in 2006 in terme van die Skolewet in die Staatskoerant gepubliseer, wat bepaal dat skoolklere ʼn belangrike sosiale en opvoedkundige doel het. Openbare skole kan skoolklere behou indien hulle dit verkies, maar die beskikbaarheid van skoolklere mag nie toegang tot skole verhinder of inbreuk maak op mense se grondwetlike regte nie. Die koste van skoolklere moet beperk word deur die reeks skoolklere te verminder en die aantal uniforms wat ʼn skool vereis te beperk, sodat meer as een verskaffer dit kan verkoop.

Die departement het in die riglyne genoem dat rolspelers skoolklere beskou as ʼn positiewe en kreatiewe manier om skoolkinders te identifiseer om skole meer gedissiplineerd en veilig te maak, terwyl dit ook groepsdruk vir duur klere, diefstal van duur klere en bendegeweld verminder, dissipline verbeter en leerders help om beter te konsentreer. Die Menseregtekommissie het egter gesê baie van die redes word nie deur empiriese navorsing ondersteun nie. Kinders wat nie skoolklere dra is nie uiteraard ongemanierd, gewelddadig of bendelede nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Ag hierdie storie kom al jare terug, ek is nou op pensioen en die probleem is nog steeds daar, moet asb nie opgewonde raak nie.

Louise ·

Ek hoop regtig daar word iets hieromtrent gedoen! Seuns kan vir hulle normale grysbroeke en grys of wit hemde by Pep gaan koop vir spot goedkoop, maar ons ouers van dogters, moet oor die R500 opdok vir EEN skoolrok!!!! Dis belaglik en nie eers gepraat van verregaande nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.