Verbruikersake: Hof verlig verbruikers se kredietpyn

Argieffoto

Verbruikers wat jare lank ontevrede was met hul banke, wat geld wat hulle byvoorbeeld op hul kredietkaartrekeninge geskuld het, summier van hul tjek- of spaarrekening afgetrek en oorbetaal het sonder hul toestemming, hoef nie meer daaroor bekommerd te wees nie. Die Johannesburgse hooggeregshof het nou in ’n uitspraak banke verbied om dit te doen. Ina Opperman vertel meer.

Artikel 124

Artikel 124, wat handel oor heffings teen ander rekeninge, bepaal dat dit wettig is vir ’n verbruiker om magtiging aan ’n kredietverskaffer te gee of vir ’n kredietverskaffer om vir magtiging te vra om ’n bedrag te hef teen ’n rekening indien dit tot voordeel van die verbruiker gedeponeer en deur die kredietverskaffer gehou word en spesifiek deur die verbruiker in die magtiging genoem word.

Die bedrag of bedrae kan ook net gehef word om ’n enkele verpligting kragtens die kredietooreenkoms of ’n reeks herhalende verpligtinge kragtens die kredietooreenkoms, wat spesifiek in die magtiging uiteengesit word, na te kom.

Die kredietverskaffer kan ook net die bedrag hef vir ’n bedrag wat bereken word met betrekking tot die verpligting wat dit kragtens die kredietooreenkoms moet nakom en wat spesifiek in die magtiging uiteengesit word.

Die bedrag mag ook net gehef word op of ná die datum waarop ooreengekom is en die datum moet ooreenstem met die kredietooreenkoms en spesifiek in die magtiging uiteengesit word. Enige magtiging wat nie skriftelik gegee word nie, moet elektromagneties opgeneem en daarna op skrif gestel word.

Die kredietverskaffer moet, voordat enige bedrag afgetrek word, op die voorgeskrewe wyse en in die voorgeskrewe vorm jou in kennis stel van die heffing en jou toestemming vra om dit af te trek.

Die hofsaak

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het ’n verklarende aansoek by die hof ingedien om duidelikheid te kry oor die toepassing van artikel 124 van die Nasionale Kredietwet nadat ’n verbruiker gekla het dat Standard Bank geld uit sy rekening gebruik het om ander skuld by die bank te delg.

Standard Bank het aangevoer dat hy volgens die gemene reg die reg het om dit te doen, maar die NKR het van die bank hieroor verskil en die hof gevra vir duidelikheid oor artikel 124. Die hof se uitspraak verlede week was ten gunste van die NKR dat die gemene reg wat banke die reg tot verrekening gee, nie van toepassing is op kredietooreenkomste wat onderworpe is aan die Kredietwet nie.

Die NKR het die hof gevra vir ’n hofbevel dat die reg tot verrekening nie swaarder weeg as artikel 124 nie. Banke gebruik die reg tot verrekening om geld uit verbruikers se rekeninge te gebruik om skuld op kredietooreenkomste met die bank te betaal sonder dat verbruikers daartoe instem.

Die hof het bevind die doel van artikel 124 is om af te wyk van die gemene reg en die praktyk van reg tot verrekening te staak, aangesien die artikel die reg tot verrekening in die gemene reg uitsluit in alle kredietooreenkomste wat onderworpe is aan die Kredietwet.

“Die NKR is baie bly oor die uitspraak omdat dit verbruikers beskerm teen finansiële probleme wat veroorsaak word wanneer banke lukraak geld uit hul bankrekeninge onttrek,” sê Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof van die NKR.

Die uiteinde vir verbruikers

Jou bank moet dus nou jou toestemming kry om fondse uit jou rekening oor te plaas om jou skuld te dek.

Wie is die Nasionale Kredietreguleerder?

Die Nasionale Kredietreguleerder is ingestel deur die Nasionale Kredietwet om die Suid-Afrikaanse kredietbedryf te reguleer. Die NKR is verantwoordelik vir die registrasie en monitering van kredietverskaffers, kredietburo’s, skuldberaders, betalingsagente en agente wat klagtes oplos. Die NKR is ook verantwoordelik vir verbruikersopvoeding en verbruikersbeskerming om ’n kredietbedryf te skep wat billik, deursigtig, toeganglik en dinamies is.

Kla hier:

As jy wil kla oor jou bank wat sonder toestemming geld uit jou rekening oorplaas om jou skuld by die bank te delg, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

Pappi ·

Wonderlik! Hulle het dieselfde met my gedoen….toe surprise ek standaaardbankie deur na n awesome bank te verhuis…ha ha ha…toe niks wat meer in kom wat hul sommer net kan opraap nie….

Gerda ·

Hulle is vinnig om skuld te maak maar as dit kom by die terug betaal dan is hulle vol streke en stories.

Tammy ·

Die bank sal NOOIT sommer net jou geld vat om van jou skuld te delg nie. Hulle bel eers herhaaldelik en dan kry jy briewe. So dis regtig vrot skuld wat hulle probeer verhaal…. ek het byna 40 jaar diens en ek weet. Ek skaam my vrek oor so iets, want ek is net te trots en dink teveel van myself om nie my skuld te betaal nie en sodoende ander mense in te loop. Ag nee sies man!!!!!!!! INtergriteit ?????>

Regtig ·

Aan Tammy, KOM asb tog by. BANKE DOEN DIT! Ek was nog altyd n pligsgetroue betaler. Verlede jaar November kon ons maatskappy nie ons salarisse betyds betaal nie en ons het dit eers uitgevind oo die heel laaste dag van die maand. Toe ek vir FNB in kennis stel van ons situasie het hul eenvoudig net hul skouers opgetrek en gese dat ek hul 5 dae voor die tyd in kennis moes stel. 2 dae later toe verhaal hul die fondse van my kind wat onder 10 is se rekening wat met myne gekoppel was. Dit was n globale nagmerrie vir ons gesin. Ons moes maar vir my kind n rekening by n ander bank gaan oopmaak om die ou spaargeld van grootouers aan die kleinkind te beskerm. Die ontrekking het plaasgevind SONDER my toestemming!!!! MAAR BANKE SAL DIT NOOOOOIT DOEN NIE! AS JY SKRIK, SKRIK TOG NET WAKKER!!! Asb.

Andreas ·

Ina/Maroela, julle plaas merendeels berigte oor harde politiek, sake, die ekonomie, korrupsie maar wat van kos, hoe word die pryse van voedsel in die supermarkte deur korrupsie beïnvloed? En buiten korrupsie, ook deur ‘n geknoei, vleis, hoe dinge verdoesel word dat dit in die verpakking mooi lyk, maar as jy dit by die huis oopmaak, of die dag as jy dit gaar gemaak het, is byvoorbeeld die stowevleis vir potjiekos 80% bene met effe vleis buiteom. Watter ander planne het die manne in die mou wat na geld ruik en wat hulle onbevoeg maak om in die bedryf te werk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.