Verbruikersake: Só gaan POPI jou persoonlike inligting beskerm

data-digitaal-rekenaar-brille

(Foto: Kevin Ku/Pexels)

Word jy ook in die nag in ’n koue sweet wakker en wonder wie sit almal met jou persoonlike inligting? Jy is nie die enigste een nie, maar van 1 Julie word jou persoonlike inligting beskerm wanneer verskeie van die artikels in die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI) in werking tree. Ina Opperman het gaan kyk hoe jou persoonlike inligting nou beskerm gaan word.

Deesdae gee mens nóg meer van jou persoonlike inligting vir ander mense wanneer jy by ’n gebou wil ingaan en spesifiek as deel van die veldtog teen Covid-19 sodat dié plek met jou in verbinding kan tree indien iemand wat op dieselfde tyd daar was, positief vir die virus getoets is.

Voor die pandemie moes jy ook byvoorbeeld by ’n sakepark jou besonderhede gee. Wat word daarmee gedoen en wat mag daarmee gedoen word? Mense is veral bekommerd dat hul inligting gebruik kan word om skuld te maak waarvoor hulle dan moet pa staan. Soms word die inligting ook gebruik om jou te bombardeer met reklame, wat mens ook teen die mure kan uitdryf.

Artikels 2 tot 38, 55 tot 109, 111 en 114 het verlede jaar op 1 Julie in werking getree, maar instansies het 12 maande grasie gehad om aan die vereistes van die Wet te voldoen ingevolge artikel 114.

Die doel van POPI

Artikel 2 bepaal dat die doel van die Wet is om mense se grondwetlike reg op privaatheid te beskerm wanneer dit deur ’n verantwoordelike party gebruik word, onderworpe aan regverdigbare beperkings gerig op die balansering van jou reg op privaatheid teenoor ander regte, veral die reg op toegang tot inligting en die beskerming van belangrike belange.

Die Wet is ook daarop gerig om te reguleer hoe jou persoonlike inligting gebruik mag word, asook jou regte en die stappe wat jy kan doen om jou persoonlike inligting te beskerm teen gebruik wat nie ooreenstem met die Wet nie.

Dit stel ook vrywillige en verpligte maatreëls in, soos die instelling van ’n Inligtinsreguleerder, om te verseker jou regte word gerespekteer en bevorder, toegepas en verwesenlik.

Hierdie is jou regte

Volgens artikel 3, het jy die reg om:

  • verwittig te word dat jou inligting ingesamel word of deur ’n ongemagtigde persoon verkry is;
  • vas te stel of iemand inligting oor jou het en toegang daartoe te kry;
  • te versoek dat die inligting reggestel, vernietig of uitgewis word;
  • billike beswaar aan te teken teen die gebruik van jou persoonlike inligting;
  • enige tyd te kla oor die gebruik van jou inligting vir direkte bemarking;
  • te keer dat jou persoonlike inligting gebruik word vir direkte bemarking deur middel van ongeoorloofde elektroniese kommunikasie;
  • nie onderworpe te wees aan outomatiese prosesse om ’n profiel van jou te skep nie; en
  • by die Inligtingsreguleerder te kla as iemand met jou reg tot die beskerming van jou persoonlike inligting inmeng en ’n siviele eis teen die oortreder in te stel.

Wanneer is POPI nie van toepassing nie?

Artikel 6 van die Wet bepaal dit is:

  • nie van toepassing op jou persoonlike of huishoudelike aktiwiteite nie;
  • kan nie her-geïdentifiseer word nie; en
  • indien dit deur ’n openbare instelling gebruik word vir nasionale veiligheid of indien vereis deur die kabinet, uitvoerende raad van ’n provinsie of hofprosesse.

Verskeie uitsluitings geld ook vir die oogmerke van joernalistiek, letterkunde en kuns.

Voorwaardes vir regmatige gebruik

Deel A van hoofstuk 3 bevat verskeie voorwaardes vir die regmatige gebruik van jou persoonlike inligting:

  • Verantwoordingspligtigheid, wat bepaal dat die verantwoordelike party moet verseker dat voldoen word aan die voorwaardes vir regmatige gebruik van jou inligting;
  • Beperkte gebruik, wat bepaal dat die gebruik regmatig en nie uitermatig nie moet wees, dat jy toestem om noodsaaklike inligting vir ’n transaksie te verskaf en beswaar kan maak teen die insameling van jou inligting;
  • Oogmerkspesifikasie, wat bepaal dat insameling net vir ’n bepaalde oogmerk gedoen mag word en dat die aanteken van inligting net vir ’n sekere tyd gehou mag word;
  • Beperkte verdere gebruik, wat bepaal dat dit net verder gebruik mag word vir die oorspronklike oogmerk;
  • Inligtingsgehalte, wat bepaal dat die inligting volledig, akkuraat en bygewerk moet wees en nie misleidend nie;
  • Deursigtigheid, wat bepaal dat dokumentasie bygehou moet word en dat jy in kennis gestel moet word indien jou persoonlike inligting ingesamel word;
  • Veiligheidsvoorsorgmaatreëls, wat bepalings bevat oor integriteit en vertroulikheid, inligting wat gebruik of ingesamel word deur ’n gemagtigde persoon of operateur en veiligheidsbreuke, waar iemand anders onwettig toegang verkry;
  • Jou deelname, wat bepalings bevat oor toegang tot jou inligting, regstelling daarvan en hoe toegang verkry word.

Hoofstuk 4 gee vrystelling van voorwaardes waar die Inligtingsreguleerder vrystelling kan gee van die voorwaardes ten opsigte van sekere werksaamhede.

Spesiale persoonlike inligting

Deel B van die Wet gaan oor die gebruik van spesiale persoonlike inligting, wat bepalings bevat oor:

  • wanneer die gebruik van spesiale persoonlike inligting verbode is; en
  • algemene magtiging en magtiging op grond van geloofs- of filosofiese oortuigings, ras of etniese herkoms, vakbondlidmaatskap, politieke oortuiging, gesondheid of sekslewe en kriminele gedrag of biometriese inligting.

Inligting oor kinders

Deel C handel oor die gebruik van kinders se persoonlike inligting, wat die gebruik van kinders se persoonlike inligting verbied, tensy:

  • magtiging van ’n bevoegde persoon verkry is;
  • dit nodig is om ’n reg te vestig, uit te oefen of te beskerm;
  • dit nodig is om te voldoen aan ’n regsverpligting ingevolge internasionale reg; en of
  • dit nodig is vir historiese, statistiese of navorsingsoogmerke.

Die reguleerder kan partye op versoek magtig om kinders se inligting in te samel en redelike voorwaardes daarvoor stel.

Toesig en gedragskodes

Hoofstuk 5 van die Wet bevat bepalings oor toesig, soos die instelling, bevoegdhede, pligte en werksaamhede van die Inligtingsreguleerder en Inligtingsbeamptes, terwyl hoofstuk 7 bepalings bevat oor gedragskodes wat die reguleerder mag instel.

Direkte bemarking

Hoofstuk 8 van die Wet bevat verskeie bepalings oor direkte bemarking om verbruikers te beskerm, direkte bemarking deur middel van ongeoorloofde elektroniese kommunikasie, gidse vir kontakbesonderhede en geoutomatiseerde besluitneming.

Artikel 69 bepaal dat:

  • die gebruik van jou persoonlike inligting vir direkte bemarking deur middel van elektroniese kommunikasie verbied word, tensy jy toestemming daarvoor gegee het of ’n klant van die instansie is;
  • ’n instansie jou net een keer mag nader indien jou toestemming vereis word, indien jy nie voorheen geweier het nie en jou toestemming op die voorgeskrewe wyse verkry is;
  • ’n instansie waar jy ’n klant is, mag net jou persoonlike inligting gebruik indien jy jou inligting gegee het tydens die koop van ’n produk of diens of vir direkte bemarking. Jy moet ook die geleentheid kry om gratis en sonder ’n omvattende proses beswaar te maak teen die gebruik van jou inligting toe dit ingesamel is of tydens direkte bemarking.
  • Enige kommunikasie vir direkte bemarking moet die instansie identifiseer en ’n adres verskaf waar jy kan vra dat die kommunikasie gestaak word.

Inligtingsvloei oor landsgrense, afdwinging, misdrywe, strawwe en administratiewe boetes

Hoofstuk 9 bevat bepalings oor inligtingsvloei oor landsgrense en hoofstuk 10 oor die afdwinging van die bepalings van die Wet, terwyl hoofstuk 11 die misdrywe, strawwe en administratiewe boetes bepaal.

Kla hier:

Besoek die reguleerder se webwerf by www.justice.gov.za of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
deHAS

Ja veral jou kollegas en jou persoonlike lewe.

Elize

Nou sal hierdie foonpeste seker ophou. As ek iets wil koop gaan ek winkel toe. Hulle verstaan nie die woorde “Nee dankie ek stel nie belang nie”. Sal aanhou bel tot jy vieslik word

Lourens

Gaan hierdie my teen fb beskerm wat deur WhatsApp my persoonlike inligting wil gebruik vir “personalised advertising”?
Ek het vantevore probleme met fb gehad deurdat ongewenste persone my felemale gekontak het om my te ontmoet. Dit het my amper 4jr gevat om my profiel van fb af te kry, en nou het hulle WhatsApp gekoop.

Manie

Vanaf die oomblik dat jy jou selfoon nommer en e-pos adres aan enige instansie verskaf het, sal jy verpes word met oproepe en e-posse tot in ewigheid. Hoe groter jou deelname op sosiale media, hoe groter die probeem. Kyk maar gerus vanaf môre oggend wanneer die wet in werking tree of enige van die “spam” oproepe of e-posse eensklaps gaan ophou, onthou jy moet toestemming verleen dat jou inligting gebruik mag word. Ons praat weer later hieroor…..

RS

Hoeveel keer moet groups op Whatsapp en FB die kennisgewing post?