Verdagte betrap waar vrou vermoor is

Die polisie op die toneel. Foto: CERT

ʼn Verdagte persoon is Woensdagoggend in Centurion betrap in dieselfde gebied waar ʼn vrou se lyk Dinsdagoggend deur ʼn drawwer gevind is.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel die man nog nie amptelik met die vrou se moord verbind kan word nie, is die polisie op die toneel om verdere ondersoek in te stel.

“Lede van ʼn private veiligheidsmaatskappy het die verdagte persoon by een van die eiendomme opgemerk naby die plek waar die slagoffer se liggaam gister in Basheestraat in Doringkloof gevind is. Die polisie is ontbied en ons behoort binnekort meer inligting te hê,” het Miller gesê.

Volgens ʼn ooggetuie is die man omstreeks 07:15 deur polisiebeamptes op die toneel ondervra. Hy is skraal en het donker klere aangehad.

Miller het Dinsdag gesê voorlopige inligting dui daarop dat die vrou deur ʼn skraal man in donker klere aangeval is. Die man het in die rigting van Jeanlaan gevlug.

Maroela Media het vroeër berig die slagoffer, ʼn huiswerker in haar 40’s, is omstreeks 06:20 vermoedelik in ʼn straatrooftog met ʼn mes in haar nek gesteek. ʼn Plaaslike inwoner wat gaan draf het, het op haar liggaam afgekom en hulp ontbied. Die vrou is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mornay ·

Ek het al baie gewonder as die role van privaat veiligheidsmaatskapy en die pollisie om geruil kon word of Beki celle nie beter sou vaar nie en of hul die privaat veiligheidsmaatskapy meer mag kon gee
(want wie het nou hier weer die opvolg werk gedoen)
Laat mens dink ne

Blue Butterfly ·

Tragies dat ‘n person wat net ‘n dag se eerlike werk wou gaan doen, so vermoor is.

Piet ·

Nou is die man weer “skraal met donker klere”. As die pers nie die persoon wil beskryf nie, los dit dan eerder geheel en al uit en verwys net na n persoon, dan klink dit ten miste nie belaglik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.