Verdagte dalk met talle ander moorde ook verbind

Argieffoto

ʼn Man wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn Wes-Kaapse onderwyseres kan moontlik met verskeie ander moorde in die provinsie verbind word.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê die 32-jarige Zimbabwiër is op 9 Februarie in hegtenis geneem in verband met die moord op die onderwyseres van Da Gamaskop.

Lungelwa Dangatye se liggaam is op 19 Desember 2017 in haar huis aangetref. Mosselbay Advertiser berig besorgde familielede het die deur van haar huis oopgebreek en daar op die 47-jarige vrou se liggaam afgekom.

Volgens die koerant was Dangatye se hande vasgebind en het sy erge wonde aan haar kop gehad.

Pojie sê destyds kon niemand met Dangatye se moord verbind word nie, maar DNS-toetse het sedertdien tot die Zimbabwiese verdagte se inhegtenisneming gelei.

“Die inhegtenisneming van die verdagte het gelei tot ʼn marathon-ondersoek na vier ander moorde op vroue van onderskeidelik Wolseley, Worcester, Swellendam en De Doorns.” Pojie sê die verdagte word vermoedelik ook met dié moorde verbind.

“Die ondersoek duur voort in ʼn poging om die ander moorde op te los met nuwe leidrade wat nou aan die lig gekom het met die beskuldigde se inhegtenisneming.”

Pojie kon nie onmiddellik die naam van die verdagte bevestig nie.

Mense met meer inligting oor moorde wat tussen 2016 en 2019 in die Boland en die Suid-Kaap gepleeg is, word versoek om dit by Stop Misdaad by 0860 010 111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hoe nou... ·

Gaan die verdagte uitgelewer word aan Zim of gaan hy hier vervolg word?

Eddy ·

Nikita Lewis van Kensington in Kaapstad was vermoor(doodgesteek deur haar Zimbabwiese kêrel,juis nadat sy by die Saartjie Baartman tehuis vir mishandelde vroue gaan toevlug soek het.In Bredasdorp is Elda Jaftha deur haar ouer Zimbabwiese kêrel vermoor,haar liggaam in n mat toegedraai en soos vullis weggegooi.Ek sê bly ver weg van n uitlander kêrel.

PJC ·

Dit is hoekom enige land goeie grensheinings moet hê om te verhoed dat ongewenstes inkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.