Verdagte dán weer in hof vir ‘sluipmoord’ op Valke-speurder

Kol. Leroy Bruwer (Foto:WCFF via Twitter)

Die 28-jarige verdagte wat verbind word met die moord vroeër vanjaar op lt.kol. Leroy Bruwer (49), ’n speurder van die Valke, het Dinsdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Sinovuyo Selale het weer aansoek om borgtog gedoen. Dit volg nadat sy aansoek om borgtog tydens sy formele borgtogaansoek op 25 Junie van die hand gewys is.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die borgtogaansoek is nie vandag afgehandel nie. Selale sal na verwagting weer op 9 September in die hof verskyn wanneer sy borgtogaansoek voortgesit sal word.

Hy sal intussen in aanhouding bly.

Selale het homself in Junie by die Tsolo-polisiestasie in die Oos-Kaap oorgegee. Hy is daarna na Nelspruit oorgeplaas.

Maroela Media het vroeër berig Bruwer is in sy motor buite Nelspruit met ’n aanvalsgeweer doodgeskiet. Bruwer was omstreeks 06:20 van sy huis af op pad Nelspruit toe vir ’n hofsaak. Bruwer het op ’n kleinhoewe op die R37 buitekant Nelspruit gebly.

Die Valke se woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, het vroeër bevestig die moontlikheid dat dit wel ’n sluipmoord was, kan nie uitgeskakel word nie.

Bruwer het verskeie hoëprofielsake ondersoek, waaronder transitorooftogte, georganiseerde misdaad en renosterstroopsindikate. Hy was veral ’n belangrike ondersoeker in die stryd teen renosterstropery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.