Verdagte dood in skietery met polisie

Die BMW waarin die verdagtes by die winkelsentrum gesit het toe inwoners snuf in die neus gekry het. Foto: SAPD

ʼn Verdagte is doodgeskiet en nog een gewond toe hulle op die polisie in Limpopo losgebrand het en die een in ʼn polisievoertuig weggejaag het.

Taakspanlede van die Dennilton-polisiestasie, sowat 25 km suidwes van Groblersdal, het Donderdag omstreeks 10:00 inligting van inwoners ontvang oor ʼn verdagte motor by ʼn plaaslike winkelsentrum.

Die lede het flink gereageer en op ʼn BMW afgekom met drie insittendes daarin en hulle genader, sê kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo-polisiewoordvoerder. Na bewering het die verdagtes op die polisie begin skiet.

“Tydens die skietery het een van die verdagtes in ʼn polisievoertuig gespring en weggejaag,” vertel Ngoepe. Die ander twee verdagtes het te voet weggekom.

ʼn Deeglike soektog na die verdagtes en die polisievoertuig is op tou gesit tot een van die drie kort daarna aangekeer is. Beamptes het aanhou soek na die orige twee tot nog ʼn verdagte opgespoor is.

Ngoepe vertel dié verdagte het na bewering op die polisie begin skiet. Hy is noodlottig gewond toe beamptes teruggeskiet het.

Polisiebeamptes het op verskillende plekke op ʼn vuurwapen en ʼn BMW beslag gelê en die polisievoertuig teruggekry. Geen polisielid is tydens die voorval beseer nie.

“Ons soek nog na die derde verdagte,” sê Ngoepe. “Die oorsprong van die vuurwapen en die BMW, asook die oorledene se identiteit sal tydens die polisie se voortgesette ondersoek vasgestel word.”

Klagte van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en motorkaping word ondersoek. Die 32-jarige verdagte wat aangekeer is, kom binnekort voor in die Dennilton-landdroshof.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, Limpopo-polisiekommissaris, is in sy noppies met die polisie se “voortgesette pogings om die misdaadsituasie in die provinsie te bestendig”. Hy betuig ook sy dank teenoor inwoners wat die polisie getrou van betroubare inligting oor misdade in hul omgewing voorsien.

“Die steun wat ons voortdurend van die onderskeie gemeenskappe in ons provinsie ontvang,” sê hy, “dra geweldig baie by tot die stryd teen misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joan Strydom ·

As mens jou sleutel uit jou voertuig trek kan die skelm nie sommer daarmee wegjaag nie.

Madelene ·

Wonder of die polisie hier ook aangekla van word vir moord soos die oupa wat sy kleinkind en vrou beskerm het???

Katvis ·

Goed gedoen vir die polisie in die geval. Dis mos hoe veiligheids wetstoepassers moet te werk gaan. Dankie!! ?

Wayne ·

Maroelamedia het gedurende die week ‘n berig gedra van ‘n bejaarde blanke man wat hom en sy gesin onlangs teen ‘n aanvaller verdedig het. Almal weet die aanvaller was nie ‘n Boerseun nie, hoewel sy ras nie bekend gemaak mag word nie. So aanval is mos nie rassisties nie, want die slagoffer is blank. Jy kan mense van ander rasse aanval, verkrag en vermoor en daaroor sing, maar moet net nie kinders by tafels sit op skool wat die ANC nie pas nie. Hoe dit ookal sy, die blanke man is op aanklag van moord gearresteer aldus die berig. Ek neem aan die SAPD lede wat die oorledene gedood het is ook gearresteer, anders is HIERDIE RASSISME! Dan eis ek dat die Minister van Polisie afgedank word en ‘n blanke minister aangestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.