Verdagte dood in skietgeveg met buurtwag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Amirali Mirhashemian/Unsplash)

ʼn Vermeende huisrower is Maandag in ʼn hospitaal in Kimberley dood nadat hy in ʼn skietgeveg met die plaaslike buurtwag betrokke was.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê ʼn huiseienaar en sy vrou is om 08:00 wakker gemaak deur vyf rowers – vier mans en ʼn vrou – in hul huis in Moghul Park.

Die vermeende rowers het glo hul vuurwapens op die egpaar gerig voordat hulle aangerand en vasgebind is.

“Hulle het die eienaar se vuurwapen en ʼn groot bedrag geld uit die kluis gebuit voordat hulle van die toneel af gevlug het,” sê Kock.

Die buurtwag is in kennis gestel oor die voorval en die verdagtes in ʼn straat in die gebied aangekeer.

“ʼn Skietgeveg het tussen die buurtwag en die verdagtes uitgebreek waartydens een van die verdagtes, ʼn 35-jarige man, en ʼn bystander (30) beseer is.”

Die twee beseerdes is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling. Die verdagte het egter later dieselfde dag aan sy beserings beswyk. Die bystander sterk steeds aan in die hospitaal.

Die polisie het ná die skietgeveg daarin geslaag om die 24-jarige vroueverdagte in hegtenis te neem.

Die ander drie vermeende rowers is egter steeds op vrye voet en die polisie ondersoek die saak verder.

Volgens Kock het die polisie ʼn geregtelike ondersoek na die dood van die oorlede verdagte van stapel gestuur. Nog niemand is egter in verband met sy dood in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.