Verdagte dood ná rooftog by Plett-vulstasie

Die polisie het vier verdagtes in hegtenis geneem. (Foto: SAPS/Facebook)

ʼn Man wat glo betrokke was by ʼn gewapende rooftog by ʼn vulstasie op Plettenbergbaai, is Sondag doodgeskiet toe die verdagtes op die polisie losgebrand het. Nog ʼn verdagte is tydens die skietvoorval gewond.

Volgens sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het ʼn groep van minstens vyf mans om 05:00 ʼn winkel by die vulstasie binnegekom. Die vulstasie is langs die N2-snelweg by die ingang van The Crags tussen Plettenbergbaai en die Tsitsikamma-tolhek geleë.

“Die verdagtes het glo die winkelpersoneel van hul selfone beroof en ʼn onbekende bedrag geld gebuit.”

By die polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes op hulle losgebrand. Beamptes het teruggevuur en een verdagte is tydens die voorval dood.

“Nog ʼn verdagte is gewond en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir behandeling,” het Spies gesê.

Die ander drie verdagtes, tussen die ouderdom van 25 en 34, is in hegtenis geneem.

Die polisie is intussen op soek na nog ʼn moontlike verdagte en ondersoek die saak verder.

Beamptes op die toneel het beslag gelê op ʼn handwapen, ammunisie, twee windbukse en ʼn ongenoemde bedrag geld. Drie selfone wat tydens die rooftog gebuit is, is ook teruggevind.

“Beamptes het ook op ʼn motor afgekom wat verlate in ʼn nabygeleë bos gestaan het. Dit is glo die verdagtes se motor en beamptes het daarop beslag gelê.”

Die vier verdagtes, wat oorspronklik van Kaapstad is, sal na verwagting Dinsdag in die Plettenbergbaai-landdroshof verskyn.

Aanklagte van gewapende rooftog en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie staar die verdagtes moontlik in die gesig. Nog aanklagtes kan later bygevoeg word.

Die rooftog het by ‘n vulstasie in Plettenbergbaai plaasgevind. (Foto: SAPS/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Windbukse? Genade maar hul is laakbaar. Dankie aan die SAP vir jul vinnige optrede, wil jul nie die Vrystaat se ANC/SAP kom leer hoe dit gedoen moet word nie.

Harley Davidson ·

Ek hoop daar word ‘n moordsaak teen die polisie oopgemaak en die polisie lede word gearesteer wat dit is die proses wanneer ‘n ou oom homself verdedig teen gewapende aanvallers en een doodskiet.

Micky ·

Wil Maroela net bevestig?
Volgens my was die rooftog 5:00 die oggend.
Het om 15:30 daar verby gery en alles was versper.

Janice du Plessis ·

Dagsê Micky
Dankie vir jou kommentaar.
Die rooftog het inderdaad om 05:00 die oggend plaasgevind.
Die artikel is intussen gewysig.
Groetnis
Janice du Plessis
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.