Verdagte dood, twee vas ná KZN-massaskietery

(Foto: SAPD)

ʼn Verdagte is doodgeskiet en nog twee in hegtenis geneem nadat 10 mense, almal glo van dieselfde familie, Vrydag koelbloedig buite Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, vermoor is.

Sewe vroue en drie mans is in die skietery dood. Die oorledenes was tussen 13 en 63 jaar oud. Die slagoffers is doodgeskiet toe ʼn onbekende aantal aanvallers in die vroeë oggendure die huis waarin hulle was, ingestorm en hulle oorrompel het.

Bheki Cele, minister van polisie, het saam met nog polisiehoës die toneel in die Imbali- informele nedersetting besoek. Volgens Cele het die polisie inligting opgevolg oor ʼn “reinigingseremonie” naby die misdaadtoneel.

Minister Bheki Cele tydens sy besoek aan die toneel (Foto: SAPD)

Die verdagtes wat hier aangetref is, het op polisiebeamptes losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en een van die verdagtes noodlottig gewond. Een van die verdagtes is gewond en is saam met nog ʼn makker in hegtenis geneem. Een verdagte kon daarin slaag om weg te kom.

Die verdagte wat doodgeskiet is, was volgens Cele berug in die omgewing en word vermoedelik met verskeie misdade, waaronder moord, verbind. Daar is tydens die inhegtenisnemings op drie vuurwapens beslag gelê.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het saam met Cele die toneel besoek. Die motief vir die voorval is nog nie bekend nie.

Dit is na bewering die tweede massaskietery in een week in KwaZulu-Natal. Vier mense is glo Donderdag by ʼn huis in KwaMashu, noord van Durban, doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eugene ·

Verdagtes vinnig gevang, maar moordenaars van plaasboere kom weg. Die polisie besoek nie eers plase na n’ moord nie. Op die foto kan hoedman se hoed ook n’ sambreel wees as dit reen of warm is.

domheks ·

Die kameras rol – en wie is daar? LOL jy weet mos al teen die tyd.

Maggies ·

Die sleutel woorde in hierdie berig is vir my “reinigingseremonie”. Weereens rituele.
Ek dink ons hele land is vasgevang in kulturele offery en ons normale Christendom leef nie gelowig genoeg om hierdie bose kringloop van boosheid te verbreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.