Verdagte doodgeskiet tydens rooftog by juwelierswarewinkel

Die ACSU-veiligheidspan wat gehelp het om die verdagte by die Oak-sentrum aan te keer Foto: Hennie Engelbrecht via ACSU, Facebook

Een verdagte is tydens ʼn skietery met die polisie dood ná ʼn rooftog by ʼn bekende juwelierswarewinkel by die Oak-sentrum in Ermelo, Mpumalanga.

“Twee gewapende mans het die American Swiss betree waar een van die werknemers besig was om ʼn klant te help,” het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het die werknemers en klant met vuurwapens gedreig en van die juwele gebuit.”

Terwyl die rowers nog in die winkel was, het hulle die veiligheidswagte by die sentrum opgemerk en hul wegkomvoertuig gekontak. “Hulle het op die veiligheidswagte en polisiebeamptes, wat reeds ontbied is, begin skiet. Toe die bestuurder van hul wegkomvoertuig die skietery opmerk, het hy weggejaag en die mans agtergelaat,” het Hlathi bygevoeg.

Een van die rowers is tydens die oor-en-weer-skietery doodgeskiet. “Een van die ander rowers het in ʼn nabygeleë huis in gevlug, onbewus daarvan dat dit aan ʼn polisiebeampte behoort. Hy is in hegtenis geneem,” het Hlathi verduidelik.

Die polisie het intussen beslag gelê op ʼn vuurwapen en die goedere wat uit die winkel gesteel is.

“Die 30-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die landdroshof in Ermelo verskyn. Hy staan tereg op aanklag van sakeroof, poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Hlathi het gesê twee verdagtes is vermoedelik nog op vrye voet nadat hulle van die toneel gevlug het. Enigiemand met inligting word versoek om lt.kol. Brian Tsela te kontak by 082 340 9901.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.