ʼn 39-jarige man is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal in KwaZulu-Natal nadat hy in ʼn oor-en-weer-skietery met die polisie gewond is.
Volgens maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie Vrydag reageer nadat ʼn klagte ontvang is dat ʼn vuurwapen in ʼn huis in Madadeni, naby Newcastle, afgevuur is.
“Toe die polisie by die huis opgedaag het, het die verdagte lukraak op die beamptes begin skiet. Die beamptes het teruggeskiet en die verdagte in sy been getref,” het Zwane gesê.
Die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen wat in die man se naam geregistreer is. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit met ander misdrywe verbind kan word.
Die verdagte moet in die Madadeni-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.