Verdagte in bejaarde se ontvoering bly in arres

Karl Reich (82) word al amper drie maande lank vermis. Foto: Facebook

ʼn Verdagte in die ontvoering van ʼn bejaarde van Welkom in die Noord-Vrystaat kom weer op 8 Januarie in die plaaslike landdroshof voor.

Mojalefa Tseki (32) word aangekla van die ontvoering van Karl Reich (82) op 24 September vanjaar en staan ook tereg op aanklagte van motordiefstal en die diefstal van ʼn selfoon, sê brig. M.S. Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Hy is onlangs borgtog van R3 000 toegestaan, maar bly in aanhouding omdat niemand dit kom betaal het nie, vertel Johan Ferreira, Reich se skoonseun.

Kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het ʼn maand nadat Reich laas gesien is, gesê hulle het rede om te vermoed hy is ontvoer nadat die polisie foto’s van ʼn e-tolhek in Johannesburg bekom het wat wys hoe iemand met sy wit Kia Cerato, registrasienommer FDC861FS, en sy goudkleurige Honda Civic, registrasienommer DSS377FS, daardeur ry.

“Ons het besluit iets verdag is hier aan die gang,” het Thakeng middel November gesê, amper twee maande nadat beeldmateriaal van die veiligheidskameras by ʼn motorhawe naby Reich se huis in Jim Fouchépark gewys het mense ry daar met sy twee motors op die dag [24 September] van sy verdwyning,.

Reich se dogter en skoonseun, Belinda en Johan Ferreira, het nadat hy as vermis aangemeld is ʼn hofbevel gekry wat Absa gedwing het om inligting bekend te maak wat aangedui het dat die bejaarde se kredietkaart op 25 September, die dag nadat hy vermis geraak het, onsuksesvol vir drie transaksies in Johannesburg gebruik is.

Beeldmateriaal van kameras by die tolhekke tussen Kroonstad en Johannesburg het egter niks opgelewer nie.

Reich se huisalarm het die aand van sy verdwyning afgegaan, maar Reich het die veiligheidsmaatskappy verseker niks skort nie. Die alarm is egter sowat ʼn uur later weer geaktiveer. Later die aand het bure ondersoek ingestel toe hulle sien sy motorhek staan oop en ligte brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.