Verdagte in ds. Liezel-moord vandag in hof

Ds. Liezel de Jager. (Foto: Verskaf)

Die verdagte wat in verband met die moord op ds. Liezel de Jager in hegtenis geneem is, verskyn Maandag in die landdroshof op Amanzimtoti.

Maroela Media het vroeër berig dat die polisie die man Donderdag in Bloemfontein in hegtenis geneem het.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die 45-jarige man op 24 November in die vroeë oggendure in hegtenis geneem is, ongeveer twee weke nadat die nasionale eenheid vir onopgeloste sake die dossier op 6 November oorgeneem het.

Na verneem word, sal De Jager se ouers, Henk en Salomé van Zyl, nie die hofverrigtinge bywoon nie.

Die landdroshof op Amanzimtoti waar die verdagte in Liezel de Jager se moordsaak Maandag verskyn. (Foto: Verskaf)

Ian Cameron, woordvoerder van Action Society, sê egter dat die egpaar “geweldig verlig” is dat die verdagte uiteindelik twee jaar later in verband met hul dogter se moord in hegtenis geneem is. Die drukgroep is deur die Van Zyls versoek om die saak op te volg en te monitor.

Ds. Liezel de Jager (Foto: Twitter)

“Haar ouers ervaar ʼn tuimeltreinrit van emosies – natuurlik kwaad én hartseer. Ek dink haar pa voel vir die eerste keer asof hy werklik kan rou.”

De Jager is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

Die moord het skokgolwe deur die land gestuur. Geen van haar besittings is tydens die moord gesteel nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Haar ouers baklei sedertdien onverpoosd om geregtigheid te laat geskied.

Maroela Media het destyds berig De Jager se man, Werner, het kort ná die moord verdwyn. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo-suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

LIEZL ·

Goeie nuus, voel so jammer vir haar ouers. Ouers moet nie deur sulke dinge gaan nie.

Patch ·

Volgens gister se Rapport is dit haar man wat Donderdag in hegtenis geneem is en vandag in die hof verskyn.

Lila ·

Die verdagte se naam mag nie bekend gemaak word alvorens hy/sy nie gepleit het nie.

Casper ·

Lila,as ek nou toevallig in die hof is en ek herken die verdagte en ek blaker sy naam uit………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.