Verdagte in Gauteng doodgeskiet ná rooftog in Mpumalanga

Argieffoto: https://pixabay.com

Die polisie in Gauteng het Vrydag vroegoggend een verdagte doodgeskiet en ʼn ander een gewond en in hegtenis geneem ná ʼn rooftog wat hom Donderdagaand in Mpumalanga afgespeel het.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het net ná 04:00 in Silverton plaasgevind.

Die polisie se honde-eenheid het omstreeks 04:00 reageer op ʼn gesteelde voertuig se opsporingstelsel se sein in Silverton.

“Toe beamptes die gesteelde Ford Ranger op die N4 gewaar, het hulle probeer om die voertuig te laat stilhou en ʼn hoëspoed-jaagtog het ontstaan. Die verdagtes het beheer oor die gesteelde voertuig verloor op Solomon Mahlanguweg en toe op die polisie losgebrand terwyl hulle te voet van die toneel probeer vlug het. Die polisiebeamptes het teruggeskiet,” het Weilbach gesê.

Een van die verdagtes is doodgeskiet en die ander een is gewond en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Die polisie kon vasstel dat die voertuig gesteel is tydens ʼn sakeroof by Telkom Evander. Veiligheidswagte is tydens dié rooftog vasgebind en beroof.

“ʼn 9 mm-Beretta en ammunisie asook gesteelde goedere wat aan Telkom Evander behoort, is in die gesteelde voertuig aangetref.”

Die verdagte sal binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gekaapte motor, besit van vermoedelik gesteelde goedere en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karolis ·

Puik resultaat na goeie opvolgwerk.
Hou aan om goed te doen SAPD.

Christoff ·

Goeie dag ek wil net onder julle aandag bring dat die die honde eenheid van die metropolisie was wat gereageer het op die oproep.

Vriendelike Groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.