Verdagte in hof ná aanval op boervrou

Alison Oates (Foto: Verskaf)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy Alison Oates in 2015 op haar plaas naby Harrismith aangeval, gemartel en verkrag het, sal na verwagting Woensdag in die plaaslike streekhof verskyn.

Hoewel drie verdagtes vroeër in verband met die aanval in hegtenis geneem is, is die betrokke verdagte die enigste wat in dié stadium deur DNS met die aanval verbind word.

Oates het Dinsdagmiddag aan Maroela Media bevestig dat sy môre se hofverrigting sal bywoon.

“Ek gaan daar wees want ek voel dit is baie nodig om betrokke te wees by die saak en te sien hoe geregtigheid geskied.”

Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het aangedui dat die opposisieparty Oates môre in die hof sal bystaan.

Maroela Media het vroeër berig Oates is in Oktober 2015 aangeval nadat sy van ʼn vergadering in Bethlehem teruggekeer het.

Sers. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder, het destyds gesê twee onbekende mans het haar by haar huis ingewag. Hulle het haar in haar huis ingedwing waar hulle haar met kledingstukke vasgebind het. Sy is onder meer met ʼn mes gesteek en met ʼn warm strykyster gebrand terwyl haar aanvallers op geld aangedring het.

“Sy het vir hulle gesê sy het nie baie geld nie, net dit wat sy by haar gehad het. Die mans het haar glo ook verkrag voordat hulle met die vrou se wit Mahindra-bakkie gevlug het. Hulle het die geld wat sy by haar gehad het en ʼn selfoon gesteel,” het Mophiring gesê.

Oates kon haar ná die aanval loskry en het hulp by bure ontbied.

Sy het in Desember 2016 haar storie met Maroela Media gedeel om bewusmaking te skep te midde van die destydse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Al is sy verkrag en sou haar identiteit volgens wet teruggehou kon word, het sy toestemming gegee dat haar naam bekend gemaak mag word.

Steyn sê sy hoop geregtigheid sal in dié saak, maar ook vir alle slagoffers van plaasaanvalle-en-moorde, geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacobus ·

Watter mense (?) pleeg sulke dade? Hierdie vrou is baie dapper om nie weg te kruip nie. Ek haal my hoed af vir haar.

Jakes ·

Jammer die gemors kannie die maksimum prys betaal vir sy veragtelike daad nie.

Herman ·

Mens kan hulle nie eers diere noem nie. Gemors comes to mind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.