Die man wat in verband met die moord op Jannie Hough (64) van Kakamas in die Noord-Kaap in hegtenis geneem is, sal Vrydag in die hof verskyn.
Kapt. Francois Steenkamp, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Hendrik Dawson (29) sal Vrydag in die landdroshof in Kakamas verskyn. Dawson sal na verwagting om borgtog aansoek doen.
Maroela Media het vroeër berig Hough het verlede Woensdag omstreeks 07:00 na Langverwag in Kakamas gegaan om sy tuinier, ʼn man in sy laat 20’s, te gaan oplaai vir werk. Hough het nooit teruggekeer huis toe nie en die werker is later gewaar waar hy met Hough se voertuig rondgery het.
Steenkamp het vroeër verduidelik ʼn boer in die omgewing het die beskuldigde naby sy wingerde sien ry met Hough se bakkie. “Hy het hom gekonfronteer en gesien hy het rooi vlekke wat soos bloed lyk op sy hemp. Die verdagte het weggehardloop en die boer het die sleutels gegryp sodat hy nie kan wegry nie,” het Steenkamp gesê.
Dawson is toe in hegtenis geneem.
Die polisie het ook te hore gekom dat die verdagte glo aan iemand erken het hy het so pas iemand doodgemaak. Die saak is by die polisie aangemeld en daar is na Hough se liggaam begin soek.
Hough se liggaam is omstreeks 11:00 die dag in ʼn oop veld naby Spieëlkop aangetref. Hy is vermoedelik met ʼn mes doodgesteek.
Dawson het Vrydag vir die eerste keer in die hof op aanklag van moord verskyn.
Terwyl die aandag NOU op Zim en ons is, laat die buiteland nou uitvind wat hier aangaan, versprei die nuus na almal in die buiteland.