Verdagte in hof na moord op polisievrou

Argieffoto

’n Verdagte het vandeesweek saam met ’n beweerde medepligtige in die landdroshof in Vereeniging in Gauteng verskyn in verband met die moord op ’n polisiebeampte. Die verdagte is gedurende die hofverskyning borgtog geweier. Die saak teen die beweerde medepligtige is wel teruggetrek.

Patrick Amlan Samuels (26) staan nou alleen tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en gepoogde motorkaping.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê Samuels en die beweerde medepligtige is Maandag in hegtenis geneem nadat hulle hulself aan die polisie oorgegee het in verband met die moord op sers. Mellita Lydia Moamohe.

Moamohe (40) is op 21 April geskiet toe sy en twee ander kollegas op pad werk toe gesien het hoe ’n persoon in ’n motor se kattebak gedwing word. Die polisiebeamptes het hul diensmotor in tru-rat gesit om ondersoek in te stel toe verdagtes skote op die voertuig afgevuur het.

Volgens Mulamu is Moamohe in die voorval gewond en na ’n hospitaal gehaas waar sy aan haar beserings beswyk het.

Dit is nie duidelik waarom die saak teen die beweerde medepligtige teruggetrek is nie.

Die saak teen Samuels is tot 13 Mei uitgestel wanneer hy na verwagting weer om borgtog sal aansoek doen, het Mulamu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Emily ·

Al die korruptes en kriminele in die land kom weg met moord. Wonder net hoekom.
Ons so called regstelsel faal ons daagliks.

Jaco ·

en wat het geword van die persoon wat in die kattebak ingedwing is???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.