Verdagte in hof vir LP se moord

Sibusiso Radebe (Foto: Facebook)

ʼn 31-jarige man verskyn Woensdag in ʼn Johannesburgse hof in verband met die skietdood van ʼn ANC-LP in Junie vanjaar in Roodepoort.

Maroela Media het vroeër berig die LP, Sibusiso Radebe (40), is op 19 Junie tydens ʼn beweerde mislukte kaping doodgeskiet. Hy is in die kop en been geskiet nadat ʼn kaper sy selfoon geëis het.

Radebe was op dié dag omstreeks 19:30 saam met ʼn ander persoon in ʼn voertuig wat in Carbonstraat, Lindhaven, geparkeer gestaan het, toe twee aanvallers die voertuig genader en op hulle losgebrand het. Sy metgesel het ongedeerd ontsnap.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder vir Gauteng, het gesê ʼn intelligensiegedrewe operasie het daartoe gelei dat die verdagte Saterdag in Bramfischerville in Soweto in hegtenis geneem is.

“Die polisie het inligting opgevolg oor ʼn verdagte wat gesoek is vir ʼn reeks misdade [sakerooftogte, huisrooftogte en kapings] in die weste van Johannesburg,” het Peters gesê.

“Die verdagte is Saterdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem. Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn groen Chevrolet Spark wat in Krugersdorp gekaap is, asook gesteelde goedere met ʼn geskatte waarde van R10 000.”

Volgens Peters het verdere ondersoek vasgestel dat die verdagte “onweerlegbaar” verbind kan word met Radebe se moord.

Die verdagte moet in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.