Verdagte in hof vir moord op emeritus-predikant

John Barnard (Foto: Facebook)

Die verdagte in die onlangse moord op die emeritus-predikant John Barnard van Gouritsmond in die Wes-Kaap het Donderdag vlugtig in die Riversdale-landdroshof verskyn.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het vanoggend aan Maroela Media gesê Gerrit Frans (33) het in die hof verskyn op aanklag van moord. Die saak is tot 29 September uitgestel wanneer Frans na verwagting sal aansoek doen om borgtog. Hy bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig ʼn buurvrou het Sondag op die liggaam van die bejaarde Barnard (88) afgekom. Hy het in ʼn plas bloed op die kombuisvloer van sy huis in Seesigstraat op dié kusdorp gelê.

Barnard was afgetree en het alleen gewoon.

Pojie het voorheen gesê die buurvrou het die betrokke dag onraad vermoed toe sy Barnard nie sedert Saterdagmiddag gesien het nie. Hy is die laaste keer gesien waar hy omstreeks 16:00 in sy tuin gewerk het.

Die buurvrou het na Barnard gaan soek en opgemerk dat die agterdeur van sy huis oopstaan. Sy het die huis ingegaan waar sy haar buurman se liggaam op die vloer aangetref het.

’n Voorlopige ondersoek het getoon dat die oorledene kopbeserings opgedoen het wat moontlik die oorsaak van sy dood kon wees. ’n Nadoodse ondersoek het dit later bevestig.

Frans is kort daarna elders in die dorp in aanhouding geneem vir ondervraging. Die verdagte het ooggetuies se beskrywing gepas van ’n vreemde man wat die dag voor Barnard se moord in sy erf opgemerk is.

Barnard word Saterdag omstreeks 11:00 in Gouritsmond ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Hier stem en vir die doodstraf.
Baie sterkte aan die familie. Geen mens verdien om so te sterf nie, wat nog te sê van ‘n man wat sy lewe aan ander mense en God gewy het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.