Verdagte in hof vir Normandien-plaasmoord

Glen en Vida Rafferty (Foto: Facebook)

ʼn 29-jarige man het Maandag vlugtig in die Newcastle-landdroshof verskyn in verband met die moord op Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), verlede maand.

Die Rafferty-egpaar se liggame is op 30 Augustus vroegoggend buite hul plaashuis aangetref. Hulle is die vorige aand koelbloedig doodgeskiet nadat hulle van Newcastle tuisgekom het. Een van hul honde is ook tydens die aanval doodgeskiet.

Die aanvallers het vroeër die veiligheidskameras buite die huis buite werking gestel.

Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal, het gesê Siyabonga Goodman Macu het verskyn op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede asook sameswering om te roof.

Bheki Cele, minister van polisie, was Maandag weer in die Normandien-omgewing om landelike veiligheid te bespreek. (Foto: SA Polisie)

Macu se aansoek om borgtog word op 28 September aangehoor. Die staat gaan dit teenstaan, het Kara gesê.

Die minister van polisie, Bheki Cele, was Maandag intussen weer in Normandien waar hy ʼn vergadering oor die regering se landelike veiligheidstrategie gelei het. Die vergadering was ʼn kans vir inwoners om met die minister en senior lede van die polisiebestuur te vergader.

Die strategie is gemik daarop om ʼn meer holistiese benadering tot polisiëring te bewerkstellig om sodoende ʼn veilige landelike omgewing te skep en voedselsekerheid, asook maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder.

Cele het by die imbizo onder meer gevra vir beter arbeidsverhoudinge tussen werkers en boere, asook die breër gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Hoop hy kry glad nie borg nie en sit sommer vir die res van sy lewe agter tralies!

Ou Cele jy weet duidelik nie hoe die boere na hul werkers kyk nie. Ons bou vir hulle huise, gee krag, gee kos en betaal hulle. Ons sorg dat hulle by ‘n hospitaal of kliniek uit kom indien hulle of hulle kinders siek is ens.

Doen eerder julle werk waarvoor julle betaal word. Nou ewe skielik maak jy baie geraas, maar skitter gewoonlik in jou afwesigheid!

Cornelius ·

Ongelukkig is dit n prentjie hierdie wat nie gaan beter raak nie. Daar lê n donker pad vir die land en sy mense voor. Die onteiening sonder vergoed en die politieke en regstelsel wat dit ondersteun gaan dit alles verwoes.

Sarel ·

Regering se Landelike Veiligheidsstrategie….wat is dit?
Wonder of mens dit kan eet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.