Verdagte in hospitaal gevind ná kaping, skietgeveg

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

ʼn 28-jarige man is Dinsdag in ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal in hegtenis geneem nadat ʼn kaping in ʼn dae lange kat-en-muis-speletjie met polisiebeamptes ontaard het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 38-jarige vrou se motor is Donderdag gekaap terwyl sy besig was om haar huis in Chatsworth te verlaat. “Twee verdagtes het ʼn vuurwapen op haar gerig en haar gedwing om uit die motor te klim. Die kapers het hierna drie skote in die lug afgevuur waarna hulle weggejaag het.”

Die polisie het inligting opgevolg en die motor agternagesit na ʼn huis in Tafelkop in KwaNdengezi. Die insittendes het op beamptes losgebrand en kon daarin slaag om met die motor weg te kom.

Volgens Gwala het polisiebeamptes Vrydagaand die motor in Quarry Heights opgespoor. “Die insittendes het weer op beamptes losgebrand en ʼn 26-jarige konstabel is in die been en maag geskiet. Die verdagtes kon daarin slaag om te voet te vlug en die motor is geskut.”

Die polisie het Dinsdagoggend verdere inligting opgevolg wat hulle na die GJ Crookes-hospitaal in Scottburgh gelei het. “Beamptes het ʼn pasiënt wat in die bors geskiet is ondervra en daar is vasgestel dat hy een van die verdagtes is wat by die kaping betrokke was.”

Volgens Gwala is die verdagte onder ʼn vals naam in die hospitaal opgeneem. Die verdagte is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die soektog na die ander verdagtes gaan voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Onder ‘n vervalste naam by die hospitaal ingeboek. Weet die hospitaal nie van ID boekies nie?

ekke.. ·

Crooks hospitaal? Is dit waar die crooks gaan vir behandeling? Lyk so… hahaha

Johann ·

Skuus? Na hoeveel keer se “skermutselings” ontsnap hulle? En dan moet n hospitaal die polisie se werk doen? Rerig….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.