Verdagte in hospitaal vasgetrek ná rooftog

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n 26-jarige verdagte is Maandag in ’n hospitaal vasgetrek in verband met ’n gewapende rooftog in Malvern in Durban, KwaZulu-Natal.

’n Skietery het tussen die verdagtes en ’n polisiebeampte, wat op die huisroof afgekom het, uitgebreek waartydens die verdagte in die maag geskiet is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte en twee van sy makkers het omstreeks 13:50 gewapend ’n huis in Glendale-weg in Malvern beroof. Hulle het die huis binnegegaan en die inwoners van die huis met vuurwapens aangehou terwyl hulle ’n televisie gebuit het.

“Hulle het die inwoners van die huis gedwing om op die grond te lê terwyl hulle die televisie van die muur probeer afhaal het. Die drie het oor die heining om die huis gespring met die gesteelde televisie,” sê Gwala.

’n Polisiebeampte wat in daardie stadium nie aan diens was nie, het gesien hoe die drie verdagtes met die televisie probeer wegkom. Hy het hulle gekonfronteer, waarna ʼn skietery uitgebreek het.

Gwala sê ʼn 26-jarige verdagte is tydens die skietery raakgeskiet. Die ander twee verdagtes het gehelp om hom in ’n voertuig te kry voor hulle van die toneel gevlug het. Dié voertuig is later verlate gevind en die verdagtes was skoonveld. Die polisie het op die voertuig beslag gelê vir verdere ondersoek.

Gwala sê die eThekwini-distrik se triotaakspan het ’n saak van huisroof ondersoek. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagte in ʼn hospitaal. Hy was daar vir die behandeling van ’n skietwond aan sy maag, wat hy tydens die skietery opgedoen het.

“Hy is in hegtenis geneem, maar gaan vir eers onder polisiebewaking in die hospitaal bly,” sê Gwala.

Die verdagte sal na hy ontslaan word, in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Blinde sambok, karma, verdiende loon; noem dit net wat jy wil, dit bly goed om te hoor.????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.