Verdagte in Klawer-moord vir sielkundige waarneming gestuur

Daniel Smit (Foto verskaf deur die NVG)

Die man van Klawer wat tereg staan vir die moord op ’n tienerseun is na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal in die Wes-Kaap verwys.

Daniel Smit (56) het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk.

Jerobejin het in Februarie vanjaar verdwyn nadat hy glo vrugte by Smit se huis in Klawer naby Vredendal gesteel het. Smit het die tiener daarna glo agternagesit en hy is nie weer gesien nie. Smit is in hegtenis geneem nadat menslike oorskot in ʼn rioolpyp op sy erf gevind is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Smit staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en versuim om ʼn ongeluk by die polisie aan te meld. “Nog aanklagte sal waarskynlik bygevoeg word soos wat die ondersoek voortduur.”

ʼn DNS-verslag, twee ooggetuies se verklarings, selfoonligging-analise en misdaadtoneelverslag is nog uitstaande.

“Die verdediging het vanoggend aansoek gedoen dat Smit na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys moet word vir waarneming ná ʼn verslag van ʼn sielkundige. Die sielkundige het verskeie punte uitgelig wat deur ʼn psigiater ondersoek moet word.”

Ntabazalila sê die staat het nie die aansoek teengestaan nie. Die saak is tot 23 Mei 2022 uitgestel vir die 30 dae-waarneming en 27 Junie 2022 vir verdere ondersoek. “Die beskuldigde moet op 23 Mei weer in die hof verskyn.”

Volgens die sielkundige se verslag is Smit al sedert ʼn jong ouderdom betrokke by Chinese okkultiese rituele en hy het geglo dit het hom mag gegee en sy dade regverdig. Volgens die verslag het Smit op 2 Februarie 2022 twee seuns in sy erf opgemerk wat vrugte steel. Smit voer aan Jerobejin het hom geterg en hy het sy selfbeheersing verloor. Hy het Jerobejin met sy motor agternagesit. Hy het die seun gestamp en hom in die motor ingetrek. By sy huis het hy eers vir die seun brood en koeldrank gegee en toe sy nek gebreek.

Smit se 20-jarige dogter was ten tyde van die voorval by die huis, maar nie bewus van dit wat gebeur het nie. Jerobejin se liggaam is in die vrieskas geplaas.

Smit het ná aandete vir sy dogter glo slaappille gegee sodat hy ʼn voorafbeplande ritueel kon uitvoer. Hy het, volgens die sielkundige se verslag, die liggaam geskend en die liggaamsdele met teerpale verbrand. Hy het daarna die oorskot in die septiese tenk gegooi waar munisipale werkers daarop afgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gideon ·

Sluit hom toe en gooi weg die sleutels, die is n bewys wat gebeur as jy met Satan deurmekaar raak!!!

Swerwer ·

Genade, hoe op aarde kan jy ‘n kind vermoor en in ‘n rioolpyp bêre , dit vir ‘n paar vrugte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.