Verdagte in moord op Rustenburgse sakeman los borgtogaansoek

Die vermoorde sakeman, Ben Gumbi. (Foto: Facebook)

Een van die verdagtes in die moord op Ben Gumbi, ’n bekende sakeman van Rustenburg, het sy borgtogaansoek laat vaar.

Die 30-jarige Thabani Gwala sal nou tot 9 Januarie in aanhouding bly wanneer die saak weer in die Rustenburg-landdroshof voorkom.

Gumbi is in September deur twee mans buite Plato Coffee in Kockstraat doodgeskiet. Hy het pas by die koffiewinkel aangekom toe die aanvallers toegeslaan het.

Hulle het van die toneel gevlug, maar hul motor is later verlate op die hoek van Helen Joseph- en Louriestraat gevind.

Gwala staan saam met sy medebeskuldigde, Sibongiseni Ngubane (33), op Gumbi se moord tereg.

Ngubane het vroeër om borgtog aansoek gedoen, maar dit is suksesvol deur die staat teengestaan. Hy sal in 9 Januarie saam met Gwala in die hof verskyn.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes, staan Ngubane tereg op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade in die Gumbi-saak.

Daar is ook verskeie onverwante aanklagte teen hom, insluitend ʼn aanklag van gewapende roof in Germiston. Hy is in dié saak op borgtog van R3 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.