Verdagte in polisiemoord aangekeer

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan verdink word dat hy ʼn polisiebeampte tydens ʼn gewapende rooftog ʼn week gelede in Port Elizabeth doodgeskiet het, is Sondag in hegtenis geneem.

Die 24-jarige verdagte is deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdade by sy ouers se huis in Algoa Park, Port Elizabeth, aangekeer, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

Hy word daarvan beskuldig dat hy deel is van ʼn groep wat konst. Dwane Kemp (31) tydens ʼn skietery tussen die polisie en gewapende rowers doodgeskiet het.

Maroela Media het vroeër berig lede van Port Elizabeth se blitspatrollie het ʼn klag ontvang oor ʼn gewapende roof by ʼn bakkery op die hoek van Parlement- en Rosestraat. Skote is afgevuur toe polisie by die toneel opgedaag het en hulle het teruggeskiet. Vier van die verdagtes, wat in die winkel was, is tydens die skietery dood. Die vyfde verdagte kon ontsnap.

“Beamptes het op die toneel beslag gelê op drie vuurwapens en dit is vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal of dit in ander soortgelyke misdade gebruik is,” het Mulaudzi bygevoeg.

Konstabel Kemp is in die hospitaal oorlede, net ure ná die voorval en ʼn soektog is van stapel gestuur na die vyfde rower. Hy is Sondagoggend aangekeer.

Die man sal na verwagting Dinsdag in die New Law-hof in Port Elizabeth verskyn op vyf aanklagte van moord, poging tot moord, sakeroof en die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn lisensie.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die beduidende deurbraak geloof. “Die verdagte het ʼn wetstoepasser doodgemaak, wat as ʼn skedule 6-misdaad beskryf word en dit het ʼn impak op sy aansoek om borgtog.”

Kemp is Saterdag ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Van PE ·

Welgedaan! van PE. Sy ongebore seuntjie word nogsteeds sonder ‘n Pappa groot……….

Michelle ·

Baie dankie aan God vir geregtigheid en baie dankie dat die Valke hom gekry het goeie werk ek hoop hulle hou so aan dat enige moordenaar wat ‘n lewe vat so vinnig gevang word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.