Verdagte in Wayne Smith-verdwyning nou van moord aangekla

Wayne Smith. (Foto: Verskaf)

Daar is steeds geen tyding van Wayne (Johnson) Smith nadat sy motor sowat drie maande gelede in Johannesburg vermoedelik gekaap en hy ontvoer is nie. ʼn Aanklag van moord staar nou boonop een van die verdagtes in Smith se verdwyning in die gesig.

Charl Smith, Wayne se lewensmaat, het Donderdag aan Maroela Media gesê die drie verdagtes in Wayne se verdwyning het vandag vlugtig in die Johannesburg-landdroshof verskyn voordat die saak uitgestel is.

Die verdagtes swyg steeds om enige besonderhede rakende Smith se verdwyning bekend te maak.

“Dit raak elke dag erger. Dit is bitter moeilik. Ek het my beste vriend verloor. As mens gaan kyk na al die bewyse is daar geen ander logiese antwoord as dat hy nie meer met ons is nie,” sê Charl.

Maroela Media het vroeër berig Wayne, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci) en bestuurder by Scan Display in Johannesburg, het op 12 Junie omstreeks 12:00 vir sy kollegas gesê hy gaan gou uit. Charl het vroeër die oggend nog met hom gepraat.

Charl het deur die loop van die dag verskeie kere tevergeefs met Wayne kontak probeer maak en het hom vroegaand as vermis by die Rosebank-polisiestasie aangemeld.

Wayne se selfoonsein is kort ná sy verdwyning in Tembisa opgevang. Die selfoon is glo aan iemand verkoop. Foto’s van Wayne se motor, ʼn silwer Renault Clio, het ook daarna opgeduik toe dit te koop aangebied is.

Die foon en die motor is intussen opgespoor.

Wayne en Charl Smith (Foto: Verskaf)

Charl verduidelik dat een van die verdagtes nou van kaping, ontvoering en moord beskuldig word. Die twee ander verdagtes word beskuldig van aanklagte wat verband hou met die motor en selfoon.

Al drie verdagtes se aansoek om borgtog is gedurende ʼn vorige hofverskyning van die hand gewys en hulle bly vir nou in aanhouding.

Die verdagtes sal weer op 4 Oktober in die hof verskyn waar hulle na verwagting weer aansoek om borgtog sal doen, gegrond op nuwe feite wat aan die lig gekom het.

Charl is vasbeslote om by elke hofverskyning te wees. “Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar,” verduidelik hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ouvrou ·

Ek is so bitter jammer vir Wayne se geliefdes oor hulle verlies. Ek hou julle almal met liefde in my hart vas.

Charlfan ·

My hart gaan uit na Charl sy lewensmaat is weg dit moet ontsettend moeilik wees met lee huis! Jy is beroof meisie

Henrico ·

Maklik om hom te laat sing…..trek naels of sit rot op sy maag of skerpioen tussen sy bene

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.