Verdagte jaar ná Valke-speurder se ‘sluipmoord’ weer in hof

Kol. Leroy Bruwer (Foto:WCFF via Twitter)

Die 28-jarige verdagte wat tereg staan vir die moord op lt.kol. Leroy Bruwer (49), ’n speurder van die Valke, het Donderdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn. Sy saak is na die hooggeregshof in Mpumalanga oorgeplaas waar ʼn verhoordatum vasgestel sal word.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê Sinovuyo Selale het Donderdag vlugtig in die hof verskyn.

Hy sal na verwagting op 26 Julie in die hooggeregshof verskyn.

Selale het verlede jaar etlike kere in die hof verskyn en sy borgtogaansoek is in Junie van die hand gewys. Hy het in September weer om borgtog aansoek gedoen, maar dit is vir ʼn tweede keer geweier.

Selale het hom in Junie by die Tsolo-polisiestasie in die Oos-Kaap in verband met die moord op Bruwer oorgegee. Hy is daarna na Mbombela geneem.

Maroela Media het vroeër berig Bruwer is op 17 Maart verlede jaar in sy motor buite die stad met ’n aanvalsgeweer doodgeskiet. Hy was omstreeks 06:20 van sy huis, op ʼn kleinhoewe op die R37, onderweg na ʼn hofsaak.

Die Valke het vroeër gesê die moontlikheid dat die aanval op Bruwer wel ’n sluipmoord was, kan nie uitgeskakel word nie.

Bruwer het verskeie hoëprofielsake ondersoek, waaronder transitorooftogte, georganiseerde misdaad en veral voorvalle van renosterstropery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tipper

Nou ja, uitgehaal, die verdagte is nie gepla nie.