Verdagte met speelgoed-AK47 betrap

Van die eiendom wat die verdagte by hom gehad het Foto: DPV Watch (verskaf)

Van die eiendom wat die verdagte by hom gehad het Foto: DPV Watch (verskaf)

ʼn Verdagte is in die Vredehoek-omgewing in Kaapstad in hegtenis geneem en word moontlik met drie sake van diefstal in die omgewing verbind.

“Ons is Saterdagaand omstreeks 22:30 in kennis gestel dat iemand by ʼn Mazda 2-motor in Peppertreeweg in Vredehoek ingebreek het,” het Rouvanne van den Berg, woordvoerder van die buurtwag vir die Duiwelspiek/Vredehoek-omgewing, aan Maroela Media gesê. “Volgens die berig het die man teen die berg opgehardloop en hy het ʼn sak by hom gedra.”

Van den Berg het gesê lede van die buurtwag het die verdagte op die voetenent van die berg, in die voetpaadjie wat na De Waalrylaan lei, ingewag. “Hy het ʼn kort rukkie later daar opgedaag met sakke op sy rug en hy het twee plastieksakke en ʼn AK47 by hom gehad. Ons het later bevind dit is ʼn speelgoedgeweer.”

Die verdagte het boonop kruideniersware in die twee plastieksakke gehad wat vroeër uit die lid van die buurtwag, wat die man aangekeer het, se motor gesteel is.

“Die man het ook eiendom by hom gehad wat uit die voertuig in Peppertreeweg gesteel is. Die baadjie wat hy aangehad het, is ook vroeër uit ʼn voertuig in die straat gesteel,” het Van den Berg bygevoeg. “Hierdie bewyse verbind hom met die enigste drie misdade wat die afgelope week in die gebied aangemeld is.”

Van den Berg het die lede van die buurtwag en die polisie bedank vir die inhegtenisneming. “Wie weet hoeveel misdade verhoed is deur seker te maak dat ons hierdie persoon aangekeer het?!”

Die polisie het die man in hegtenis geneem. Maroela Media wag nog vir terugvoer van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.