Verdagte moontlik deur DNS met plaasmoord verbind

Mark Regal (Foto: Facebook)

Twee jaar nadat Mark Regal (50) op ʼn plaas naby Odendaalsrus in die Vrystaat doodgeskiet is, kan ʼn verdagte nou moontlik deur middel van DNS-bewyse met die moord verbind word.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is die 45-jarige Khulekani Kaizer Mthethwa ná ʼn lang, uitgerekte ondersoek in die gevangenis opgespoor. Hy is sedert 2021 in die gevangenis vir ʼn sakeroof.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en aangekla vir die moord op Regal,” bevestig Thakeng.

Mthethwa het Vrydag in die landdroshof in Welkom verskyn. Die saak is tot 2 Junie uitgestel wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen.

Maroela Media het destyds berig Regal en sy vrou, Angela, het op 11 November 2020 na sy pa, ʼn bekende wildboer en taksidermis van Odendaalsrus, se plaas, genaamd Thelma, omgesien toe twee aanvallers toegeslaan het.

Regal en een van die aanvallers is tydens die aanval doodgeskiet.

Volgens die polisie het Angela buite gesit toe twee verdagtes omstreeks 19:45 op die plaas aangekom het.

Sy het na bewering een van die verdagtes geskiet en toe Regal uit die huis kom, is hy geskiet en noodlottig gewond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.