Verdagte ontsnap uit hospitaal

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die polisie in Mpumalanga is op die spoor van ʼn 37-jarige verdagte wat Saterdag uit ʼn hospitaal ontsnap het. Hy was onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem nadat hy deur gemeenskapslede aangeval was omdat hy en een van sy makkers ʼn bakkie gesteel het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte en sy trawant het Vrydag ʼn bakkie gesteel wat buite ʼn crèche in die Masoyi-nedersetting digby Hazyview geparkeer was. Hulle is met die bakkie vort.

“Langs die pad het hulle ʼn man gewaar wat gras met ʼn bossnyer gesny het. Hulle het op die man geskiet en hom van sy bossnyer beroof,” vertel Hlathi. “Daarna het hulle die man met die gesteelde bakkie omgery.”

Die eienaar van die bakkie het ʼn paar gemeenskapslede ingespan om sy bakkie te help soek. Hulle het later die verdagtes met die gesteelde bakkie in die Mshadza Trust-nedersetting opgespoor.

“Een van die verdagtes het gevlug toe hy die eienaar en die groep gemeenskapslede gewaar. Die oorblywende verdagte is deur die groep getakel en aangerand.”

Die verdagte het beserings opgedoen en is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal opgeneem.

Die polisie het ʼn saak van motordiefstal met ʼn bykomende aanklagte van gewapende roof aanhangig gemaak.

Die verdagte het Sondag vroegoggend klaarblyklik badkamer toe gegaan en daarin geslaag om deur die venster te ontsnap. Die polisie is sedertdien op soek na hom.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die Nelspruit-polisie ook op soek is na dié verdagte vir verskeie misdrywe wat hy gepleeg het.

“ʼn Ondersoek teen die polisiebeamptes wat die verdagte moes bewaak het, is ook van stapel gestuur. Indien dit aan die lig kom dat hulle nagelaat het om hom te bewaak, sal hulle vervolg word.”

Die polisie doen ʼn beroep op Sibusiso Dalton Nkosi, ook bekend as Nunuza, om die ondersoekbeampte te kontak omdat hy glo met die ondersoek kan help. Enigiemand wat weet waar Nkosi hom bevind, kan lt.kol. Timothy Mshwane by 082 449 0223 skakel.

“Enigiemand met meer inligting wat tot die ondersoek kan bydra, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cecilia ·

D verdagte het weet d SAPS lid omgekoop om ander pad te kyk. Of d lui oorgewig SAPS lid het seker weer gesit en slaap. Hkm was hy nie vasgeboei aan d bed nie en hkm is d SAPS lid nie saam toilet toe nie.
Nee ou CELE j mense is net so korrup soos d hele spul vd ANC

Androclus ·

“ʼn Ondersoek teen die polisiebeamptes wat die verdagte moes bewaak het, is ook van stapel gestuur. Indien dit aan die lig kom dat hulle nagelaat het om hom te bewaak, sal hulle vervolg word.”EK WONDER

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.